‘Two step’, die wals van die dood
Meer as 12 honde is die afgelope week vergiftig in Blancheville, Jackaroopark en Reynorif.

Meer as 12 honde is die afgelope week vergiftig in Blancheville, Jackaroopark en Reynorif.
WITBANK NUUS het verlede jaar om en by die tyd ‘n artikel gehad oor troeteldiere wat op ’n daaglikse basis vergiftig word. Die probleem begin weereens sy kop uitsteek en inwoners moet paraat wees.
Op Vrydag, 13 November is Marlene Botha in se honde vir ’n tweede keer die jaar vergiftig. Die voorval het in die vroeë oggendure gebeur in die Blancheville-omgewing.
“In Februarie het hulle my twee worshonde vergiftig en net na die hartseer verby is toe slaan die booswigte weer toe,” het sy gesê.
“Die keer was dit net erger gewees want hulle het die vermetelheid gehad om my honde se lewelose lyfies in ’n netjiese ry buite op my sypaadjie te pak,” het Botha ook bygevoeg.
Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) beweer dat die verdagtes wat die honde vergiftig die eienaars van motorfietse se huise teiken.

‘Two Step’, die gif wat inbrekers/rowers die afgelope tyd in eMalahleni gebruik om honde te vergiftig.
“Honde is eintlik maar net ’n onskuldige bystander. Iets wat alarm gaan maak om sy geliefdes te beskerm en net daaroor word hulle uit die ruim gemaak,” het Deon Vermeulen bitter gesê nadat sy twee boerboele ook vergiftig is in Reynorif.
Vermeulen het Woensdag omreeks 03:30 op 11 November wakker geskrik van ’n ongewone geluid en dadelik gaan kyk wat aan die gang is. Hy het ’n onbekende man in sy erf gewaar en die paniekknoppie gedruk. Toe hy buite toe gaan waar hy sy honde op die grasperk sien lê, het hy geweet dat hy ’n teiken was.
Mnr. Vermeulen het ook bygelas,
“die laaste vyf aande was die hele buurt se honde onrustig en het van laataand tot vroegoggend aanhoudend geblaf, so ’n mens is op jou hoede, maar as hulle jou honde wil vergiftig sal hulle dit doen en dit gebeur in ’n oogwink.”
Die gif Temik, beter bekend as ‘two step’ word deur die verdagtes gebruik. Temik is ‘n landbougif wat vir wurms en landbou-doeleindes gebruik word. Ongelukkig word dit deur misdadigers misbruik om honde te vergiftig en word in enige vorm van kos gesit en vir die diere gevoer.
“Die nuutste manier wat hulle jou troeteldier benader is om ‘two step’ in boeliebief of malvalekkers te sit en in jou erf gooi,” het Botha ook gesê.
Selfs die sosiale media blad, Facebook het gegons oor die vergiftiging van honde en inwoners het hulle opinies gegee.
“Hoe onnodig en wreed dit ookal mag klink moet ons daardie boewe vang laat hulle, hulle eie gif kan eet of drink,” was Tina Scholtz se kommentaar oor die gebeure.
Die omvang van honde vergiftiging is eintlik groter as wat ‘n mens besef.
“Ons hande is afgekap, ek kan die skelms nie op my eie vang nie. Ek kan wel die gemeenskap vra om al sulke sake by die polisie te gaan aanmeld, miskien sien hulle die erns in die saak en doen iets daaraan,” het Marlene Botha ten slotte gesê.
