‘Ons bid steeds vir Miané’
Volgens ’n familielid is daar steeds drukking op haar brein en haar ogies is dof.

Die dogtertjie (1) wat onlangs byna verdrink het, verkeer steeds in ’n koma in die hospitaal.
Die afgelope week is die Ainslie familie tot hul kneë gebring vir volle genesing vir Miané wat Maandag 9 November in die opslaan-swembad by haar ouerhuis geval het.
Volgens ’n familielid is daar steeds drukking op haar brein en haar ogies is dof.
“By tye hou sy op asemhaal en dan met tye haal sy te vinnig asem,” het Clautelle Herholdt vertel oor haar susterskind.
Op Saterdag 12 November was daar klein vordering “sy het haar toontjies oor my vinger gekrul,” het Jaco Herholdt gesê.
Die hele gemeenskap van eMalahleni staan die familie by met gebede en almal vertrou op volle genesing.
Op Dinsdag 17 Novemeber was daar verbetering “Miané het begin reageer as hulle haar onder haar voetjies of handjies knyp, maar daar is steeds slym op die longe. Haar asmehaling is goed,” het Clautelle ook bygevoeg oor die vordering.
Selfs dokters is opgewonde oor haar vordering maar nou wag almal net dat klein Miané haar ogies oopmaak.
“Elke dag is nog ’n dag wat Miané gespaar word en al my vertroue is in Sy hande. Ek kan net nie vir die personeel van Life Kosmos Hospitaal vertel hoe dankbaar ek vir hulle is deur die tyd nie. Hulle is werklik engele van Bo,” het Miané se ma, Claudette Ainslie ten slotte gesê.
