
Delvillestraat waarin Witbank Landdroshof geleë is, word al vir ’n geruime tyd geag as een van die gevaarlikste dele van eMalahleni.
Die week is die bewerings weereens bevestig na me. Salomien de Bruyn, Vrydag 20 November by die hof beroof is.
“Nou is ek van alles beroof,” was Salomien se woorde na sy van al haar klere, foto’s en seun se as beroof is.
De Bruyn het Vrydag net voor toemaaktyd by die hof gedraai om dokumente van haar oorlede seun, Heinrich Janse van Rensburg uit te sorteer.
“My vriend het my gehelp om al my besittings te trek na my nuwe tuiste, so alles was agter op sy bakkie gewees. Ons is toe hof toe waar hy vir my gewag het terwyl ek ingegaan het,” verduidelik De Bruyn die gebeure.

Salomien de Bruyn se seun, Heinrich Janse van Rensburg wat op 10 Oktober verongeluk het se as is Vrydag 20 November by Witbank Landdroshof gesteel.
Volgens haar vriend het sy oog twee onbekende mans gewaar agter by sy bakkie toe hy uitklim om die mans te konfronteer het hulle gevlug.
“Hulle het die bakkie se seil opgelig, alles gegryp wat hulle kon en spore gemaak,” het Salomien ook bygevoeg.
In die proses het die twee onbekende verdagtes gevlug met al haar besittings.
“Ek het niks van my eie klere nie, maar dit pla my nie. Wat my pla is my seun se as, waar is dit? Lê dit in ’n veld iewers? Het hulle dit uitgegooi? Ek weet net nie meer nie,” het De Bruyn gesê.
Vrydagaand het die polisie haar gevat om te kyk of die verdagtes nie dalk van haar goedere neergegooi het nie, maar te vergeefs.
“Ek het min woorde en dit gaan emosioneel sleg, maar ek is dankbaar vir die mense wat my bystaan. Mense wat nie eers twee keer gedink het om vir my klere te gee nie. Al wat ek kan sê is dankie, baie dankie,” het Salomien met trane in haar oë gesê.
Die Sentrale Beigheidsgebied het weekliks hoë misdaadsyfers.
“Ons maak die polisie bewus van die saak. Ons personeel is daar om rowers, moordenaars en verkragters aan te kla, nie om hulle nog te vang ook nie. So dis eintlik uit ons hande uit om veiligheidsmaatreëls op te stel,” was die woordvoerder van NPA (National Prosecutor Authority), mnr. Velekhaya Mgobhozi se kommentaar.
“Die misdaad-eenheid is hard aan die werk om daardie area veiliger te maak en alle sake word opgevolg en ondersoek,” het die woordvoerder van Witbank Polisie, kapt. Eddie Hall ten slotte gesê.
