
Inwoners van eMalahleni gons al ’n geruime tyd oor dié paal wat in die middel van ’n glipweg op die Verenapad pronk.
“Is dit ’n slenter, is die foto digitaal gemanupileer? Nee, dit is eMalahleni,” het een van die talle verstomde inwoners, Leon Greyling gesê oor die ‘oopsie’.
Die klagtes het gevloei, maar humor het ook sy gesig gewys onder die inwoners met lagwekkende kommentaar soos,
“Dis seker die munisipaliteit se manier om lig op die onderwerp, slaggate te sit,” het Johan Yselle bygevoeg.
WITBANK NUUS het navraag gedoen oor die saak by die munisipale bestuurder, mnr. Theo van Vuuren.
Sy se eerste terugvoer aan die koerant het hy gesê:
”volgens ons kennis en na ondersoek ingestel is, is daar nie so ’n paal op die Verenapad nie.”

Die paal in die middel van ’n glipweg op die Verenapad waaroor eMalahleni die afgelope paar weke gons.
WITBANK NUUS het dus self ondersoek gaan instel en wel op dié paal afgekom.
Na weke se wag en wonder het Van Vuuren uiteintlik op inwoners se vrae omtrent die saak gereageer.
“Ek weet hierdie paal trek baie aandag, ek self was verbaas toe ek ingelig word oor die saak. Aanvanklik was my reaksie dat dit nie waar kan wees nie en dat iemand besig is om al ons inwoners te flous. Maar het besef dis die waarheid.”
Inwoners het geraas oor sosiale media na Theo se terugvoer,
”hierdie moet ’n grap wees, ek meen regtig. Daar is dan opbrengspunte,” het Wandile Khumalo verstom gesê.
Al hoe Van Vuuren die probleem kon verduidelik en bepaal was as volg:
”Die elektriese lyn is onlangs gebou voor die pad en dorp beplanning gefinaliseer was. Dit is ‘n belangrike lyn en is lasdraende. Hierdie lyn is tans in terughouding. Dit impliseer dat die lyn nie nou verskuif kan word nie.”
Klagtes het begin instroom oor die konstruksie vaardighede
en ingenieurs wat op die projek gewerk het. Me. Christa Engelbrecht het gesê,
“Die hele probleem kom terug na swak beplanning, geen wonder die munisipalititeit het ’n tekort aan geld. Werk word herhaalde kere oorgedoen of korreksies word gemaak. Dit is pleinweg swak beplanning.”
Die rede waarom hierdie probleem ontstaan het volgens Van Vuuren
is dat die “konstruksie van die projek vertraag sou word as die kontrakteurs moes wag dat die elektriese lyn eers verwyder moes word.”
Dit blyk ook dat die konstruksie van hierdie spesifieke pad deel is van ’n nuwe uitbreiding in die gebied wat sal aansluit by ’n winkelsentrum.
Van Vuuren het verder verduidelik,
“die ontwikkeling van die nuwe uitbreiding is in die pyplyn en soos die ontwikkeling plaasvind sal die pad verder gebou word. Die paal sal ook dan verwyder word. Op hierdie stadium is dit nog nie nodig gewees om die paal te skuif nie. Daar is geen verkeer op daardie pad nie, maar wel hindernisse geplaas om die glipweg nie te gebruik nie.”
Dit was glo ’n pragmatiese oplossing en hy het die publiek verseker dat die probleem vinnig reggestel sal word.
“Hulle sê mos die werklikheid is vreemder as fiksie,” het Van Vuuren ten slotte gesê.
