
Die feesseisoen het horribaal begin vir me. Antionette Hay. Na daar op Maandag, 14 Desember vir die derde keer in drie dae by haar huis ingebreek is, het die gees van Kersfees vir hulle verdwyn.
“Hy het my bediende verkrag, haar by haar keel gegryp en vir haar in Zulu gesê dat as sy een woord sê, hy haar gaan skiet. Die arme mens is in so ’n toestand, sy slaap hier in die huis op die bank,” was Hay se woorde.
Sy vermoed dat hulle agter by die erf ingekom het, waar die boom teen die muur groei.
“Nie een straatlig werk al vir twee maande in Amanda- of Barabarastrate nie. Dit is pikdonker in die aand. Die ligte verlig alles en hierdie oop veld langs die huis is so gevaarlik,” het sy verder gesê.
Hay sê dat sy al 26 jaar in daardie huis bly. Die bediende het haar eie huisie op die erf waarin sy bly.

Die muur wat vermoedelik gebreek het tydens die inbraak op Maandag, 14 Desember.
“Die eerste aand het hulle staal potte gevat waarin ek blomme geplant het. Dit kom van my Highveld Steel jare. Daar het ek vir 25 jaar gewerk,” het sy die herinneringe herroep. “Hulle het darem eers my plant uitgegooi en net die potte gevat.
“Die volgende aand het hulle al my honde se staal bakkies gesteel wat buite gestaan het. Ons teel met Maltese Poedels, so ek het baie kos en water bakkies buite. Die aand daarna verkrag hulle my bediende en steel haar selfoon en radio. Sy werk al 16 jaar vir my,” was Hay se woorde.
Die rowers het die deur van Sophie se huisie afgeskop.
Sy vertel dat Sophie haar dogter, Tertia ongeveer 01:15 wakker geklop het by die venster om vir haar te sê wat gebeur het.
“Die sekuriteitsmaatskappy was baie vinnig hier en die polisie ook. Sophie is hospitaal toe, waar hulle vir haar medikasie gegee het, maar dit het haar baie siek gemaak,” het sy verder vertel.
Hay sê ook dat hulle haar vir berading wil stuur maar sy verstaan nie mooi wat dit is nie.

Die opening in die heining waar mense vermoedelik bly, in Amandastraat.
“Ek het vir haar gesê dat dit jou beter hier binne sal laat voel,” het sy na haar hart gewys.
Sy vermoed dat Sophie nek ook in spasma gegaan het, aangesien sy gekla het van nek pyn.
“Oorkant die huis is ’n groot oop veld wat eers nie omhein was nie. Dit was ’n dagga- en dwelmnes. Dit is al beter vandat dit omhein is maar hulle het nou ’n gat in die heining gemaak waardeur hulle loop en hier bly ’n hele lot mense,” het sy verder vertel.
Sy het ook gesê dat hulle vroeër jare vanaf 05:00 al begin het met hulle bedrywighede, maar dat dit al beter gaan.
Mnr. Lebohang Mofokeng is geskakel aangaande die straatligte wat nie werk nie.
“Let asseblief daarop dat die straatligte nie die oorsaak van die inbrake is nie, maar dat die inbrake die feesseisoen verskriklik toeneem. Ek sal laat die elektrisiëns die ligte gaan regmaak,” het hy gesê.
Hay het ook gesê dat sy die afgelope twee maande verskriklike rekeninge gekry het, wat dubbel die bedrag van die rekeninge is wat sy normaalweg ontvang. Hulle beboet my op water en elektrisiteit. Ek en my dogter gebruik so min water en krag, ek weet nie waar hulle aan hierdie bedrae kom nie.
Mofokeng het ook aan die WITBANK NUUS gesê dat hy hieraan aandag sal skenk.
