Local newsNews

Die man op die rooi Ducati leef voort

Die 24-jarige Johann Moller het in sy kort lewe diep spore in lewens en harte getrap.

Die 24-jarige Johann Moller het in sy kort lewe diep spore in lewens en harte getrap.
Dié jongman is in die vroeë oggendure van Saterdag, 9 Januarie in ’n noodlottige ongeluk dood. Die ongeluk het in Mandelastraat, naby die Nissan motorhandelaar gebeur.

Mc378rs
Wyle Johann Moller (24) wat sy lewe tragies in ’n ongeluk verloor het op Saterdag, 9 Januarie, sal altyd vir sy sprankelende persoonlikheid onthou word.

Johann en sy vriend, Stefan Momberg was onderweg in ’n Toyota Yaris. By die drierigting stopstraat, het Stefan na bewering die slaggat raakgery wat in die pad was.

“Die kar se band het gebars na hulle die slaggat raakgery het en Stefan het beheer oor die voertuig verloor. Hierna is die Yaris teen die palmboom op die eiland vas, met al die impak aan Johann se kant,” het mnr. Albert Holzhausen van die insleepdienste gesê.

“Hy het by ons gebly. Hy het ’n baie groot liefde vir motorfietse gehad en almal het hom geken op sy rooi Ducati,” het Johann se pa, mnr. Jan Moller gesê.
“Die ongeluk het ongeveer 01:00 Saterdagoggend gebeur. Omstreeks 16:00 Saterdagmiddag het een van sy kollegas my gebel en gesê hy het gehoor dat Johann oorlede is in ’n botsing. Ek het polisiestasie toe gegaan en is na sersant Marius Etsebeth verwys. Hy het vir my gesê dat dit wel my seun is, en vir my sy beursie gegee wat Stefan se pa vir hom gegee het. Dit was in die kar,” het hy verder vertel. “Ek het na die lykshuis gegaan en dit was toe Johann wat daar gelê het.”

Hy het ook gesê dat hy niemand kwalik neem nie.

“Dit was ’n ongeluk. Stefan moet alreeds met dit saamleef. Ek het vir hom skool gehou en hy was baie hier in my huis. Ek is nie kwaad vir enigiemand nie,” het Jan moedig gesê.

Hy het ook bygevoeg dat Johann en Stefan baie goeie vriende was.
Sersant Etsebeth, die ondersoekbeampte, het gesê dat hulle na bewering by Nashville was, maar waarheen hulle onderweg was toe die ongeluk plaasgevind het, is steeds onbekend.

“Meeste van die impak was aan die kant waar Johann gesit het, en hy is opslag dood. Omdat dit gereën het Saterdag, was die slaggat vol water en die kans bestaan wel dat Stefan nie die gat gesien het nie,” het hy gesê.

Mc378-2rs
Woorde van bemoediging en mooi boodskappe is op Johann Moller (24) se Facebook-blad geplaas na die ongeluk waarin hy sy lewe verloor het op Saterdag, 9 Januarie.

Sosiale media het vlam gevat met woorde van troos, bemoediging en ook van rou op Johann se Facebook-blad. Johann sal altyd onthou word as die man met die hart van goud en wat daar was vir ander.

“Hy was ’n baie goeie boetie,” het Iban Moller, Johann se broer bygevoeg.

Jan het ten slotte gesê dat Johann baie gelag het. Hy was baie gewild onder die jong mense en almal was en is steeds baie lief vir hom.

“Almal sê sy stemmetjie is nou stil,” was Jan se laaste woorde.

Johann was ’n werknemer van Eskom by Duvha Kragstasie. Hy los sy ma, pa, twee broers en skoonsuster agter. Ook sy broerskinders vir wie hy baie lief was. Hy is ’n oud- leerling van HTS Witbank.
Sy roudiens vind Vrydag, 15 Januarie om 11:00 vanuit die NG Moedergemeente (Klipkerk) plaas.

Op Sondag, 10 Janarie het Stefan ’n boodskap op Johann se Facebook-blad geplaas:
My vriend ek lê hier en wonder of die nog als ’n droom is, want niks voel werklik nie!!! Ek het nie woorde om te sê hoe jammer ek is en hoe seer my hart is nie. Voel of ek jou teleurgestel het, maar my vriend, weet net dat ek jou baie lief gehad het en jou altyd sou beskerm met my alles. Rus sag my vriend. Jy los ’n groot printmerk in my hart.
Stefan was teen druktyd nie beskikbaar vir kommentaar nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button