CrimeNews

Soveelste inbraak by besigheid

Een van die dames wat daar werk, het die persoon op die kamera herken en hulle kon vir die polisie presies sê wie dit is en waar die verdagte woonagtig is.

“Elke keer as hier ingebreek word, dan doen ons iets om die veiligheid te versterk, maar steeds hou dit hulle nie uit nie,” het mnr. Dimitri de Waal, mede-eienaar van Venter De Jager Ouditeure moedeloos gesê.

Op Woensdag, 6 Januarie het almal aangemeld vir die eerste dag van werk vir die nuwe jaar. Hulle het op die sekuriteitkameras gesien dat iemand weereens hul laser sekuriteitstraal-toestelle (security beams) gesteel het. “Dis omtrent die 20ste inbraak in die laaste paar jaar,” het De Waal gesê.
Baie goed is al in vorige inbrake gesteel, van grassnyers en fietse tot hulle rekenaars en sleutels, asook geheuestokkies.

“Die mense het al so ver gegaan as om hulself voor te doen as potensiële kliënte en wanneer die ontvangsdame dan agter toe gaan dan steel hulle selfone, sleutels en alles wat agter die toonbank is,” het hy gesê.

Mc374 ars
Die inbreker wat by Venter De Jager Ouditeure laser sekuriteitstraal-toestelle (security beams), op 16 Desember gesteel het.

Hulle het sekuriteithekke opgesit tussen al die vertrekke, en al die kantoordeure word saans gesluit.

“Trellidor by die voorste deur hou hulle nie hier uit nie, ons sien alles op die kameras. Ons het al gesien hoe ontkoppel hulle die drade van die twee voorste lasers, sodra die alarm afgaan, hardloop hulle oor die pad in die groot veld in, tot nadat die sekuriteitmaatskappy hier was. Sodra hulle ry, kom die diewe deur die Trellidor in. Hulle maak dit oop met pangas of iets. Natuurlik sê die sekuriteitmaatskappy dan hier is niks fout nie,” het hy verder vertel.

Een van die dames wat daar werk, het die persoon op die kamera herken en hulle kon vir die polisie presies sê wie dit is en waar die verdagte woonagtig is. “Nog niemand het ons geskakel met enige suksesse nie,” het hy bygevoeg.
De Waal het ook gesê dat daar wel ’n verdagte gevang is, toe die polisie die 15 gesteelde rekenaars in sy besit gekry het, asook sleutels en geheuestokkies wat hy gesteel het.

“Ons is al hier sedert 1997, en aan die begin was daar net so baie inbrake. Nou weer. Ons het elektriese heining omgesit, nadat dit hulle nie uitgehou het nie, het ons lemmetjiesdraad oor dit gesit. Steeds kom hulle in. Ons het ’n houtdeur in die muur, nadat hulle daar ingekom het, het ons dit versterk deur staal aan die binnekant te sit. Dit is waar hulle nou ingekom het. Hulle weet presies waar die kameras en laser sekuriteitstraal-toestelle is, aangesien hulle onderdeur die lasers kruip en hulle gesigte toemaak sodra hulle by die kameras is,” het hy vertel.

Volgens De Waal het hulle ongeveer drie maande gelede so 15-20 lasers gesteel, en op 16 Desember teruggekom vir die res. Die een laser was binne die kragopwekker se ‘boks’. Hierdie is omhein met palissades en het ook lemmetjiedraad bo oor.

“Hulle weet waar dit is en ek persoonlik dink dit is iemand in hierdie spesifieke besigheid, aangesien hulle terugkom slegs vir dit,” was De Waal se woorde.

Mc374 brs
Die inbreker wat weghardloop na hy by Venter De Jager Ouditeure hul laser sekuriteitstraal-toestelle (security beams), op 16 Desember gesteel het.
Hy het verder vertel dat daar ’n dwelmnes in Van Reyneveldstraat is, reg langs die besigheid.

“Hulle staan hier buite met weerkaatser-baadjies aan, ons dink natuurlik dit is om vir die besighede in die straat parkering aan te wys. Intussen hou hulle ons elke beweging dop en weet presies wat ons tye is. Daardie selfde aand was hier weer ’n inbraak,” het hy ook gesê.

Hy vertel verder dat die motorhek se battery gesteel word, dan haal hulle die hek net van die spoor af en kom in. Ook dat die diewe venters breek om in te kom, seil dan deur die kantoor soos slange en breek al wat ’n venster of glasdeur is om by die waardevolle goed uit te kom. Dit alles word vasgevang op kamera.

“Hulle het op ’n tyd in die dak geklim, gate in die dak gemaak en slegs gelig met flitse om te sien wat hier is,” het De Waal bygevoeg.
“Ons weet nie meer wat om te doen nie. Ons het die alarmboks versteek, sluit elke kantoordeur, en sluit al die rekenaars elke aand toe. Steeds kom die diewe terug en kry nog iets om te steel,” het hy ten slotte gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button