Op Woensdag, 15 Junie omstreeks 10:00, het ’n ma en seun uit die hof gestap toe hul gepla word met ’n man wat aanhoudend wil skoor soek. Hy wou eers hul kar was, en daarna aanhoudend gevra vir geld.
Op Woensdag, 15 Junie omstreeks 10:00, het ’n ma en seun uit die hof gestap toe hul gepla word met ’n man wat aanhoudend wil skoor soek. Hy wou eers hul kar was, en daarna aanhoudend gevra vir geld.
“Ek het hoeveel keer gesê dat ek nie geld het nie. Dit is blykbaar ook een van die mans wat wag staan by voertuie. Ek het na die passasierdeur geloop en dit oopgemaak, terwyl my seun by die drywerskant wou inklim. Ek het skaars my handsak in die kar gesit toe hy voor my in die bakkie inspring en ’n mes by my keel hou,” het die slagoffer, wat anoniem wil bly, vertel.
Die hangertjie om haar nek met die groot kruis het dadelik die skelm se aandag getrek. “’Gee vir my die hangertjie of ek steek jou met die mes’, was sy woorde aan my. Diè het ek vir hom gegee en hy is weg daarmee. My seun het hom agternagesit en sekuriteitswagte van ’n nabygeleë winkelsentrum het gehelp,” het sy haar storie verder vertel.
Sy het ook vertel dat die hangertjie ’n geskenk van haar kinders was en dat jy dit nie graag wil verloor nie, maar in so oomblik dink jy net aan jou en jou kind se veiligheid en sy het tevergeefs agterna geskree vir haar seun om dit te los.
“Hy het die man in die winkelsentrum in gevolg en met hulp van die wagte, my hangertjie teruggekry. Niemand is gelukkig beseer nie en die dief is na die hof se selle geneem. Wat daar met hom gebeur het weet ek nie, en ek gee ook nie om nie. Ek is net dankbaar dat niemand seergekry het nie,” het sy in dankbaarheid afgesluit.
Sy het bygelas dat die skelm messe na die sekuriteitswagte geswaai het, hy het na bewering twee gehad maar dit kan nie bevestig word nie.
Nòg twee soortgelyke sake is aangemeld by Witbank Polisie waar een slagoffer na bewering in Impalastraat geloop het, op pad werk toe. Hy is oorval deur twee gewapende mans wat hom glo gedreig het met ’n mes. Daarna is hy van al sy besittings beroof voordat hulle weggehardloop het.
’n Ander slagoffer het ook vertel van hoe hy in sy slaap oorval is. Op Maandag, 13 Junie het twee mans die slagoffer oorval en glo sy mond toegedruk, terwyl hulle aanhoudend gevra het vir geld en sy selfoon. Diè het hulle gekry en ook ’n ou swart bokstelevisie was deel van die gesteelde items.

