
Die saak teen die twee verdagtes wat glo ’n 15-jarige seun gehelp het om heroïne te spuit, se saak is teruggetrek.
Die twee mans, onderskeidelik 25 en 23 jaar oud, het Woensdag 29 Junie verlig geglimlag toe hulle uit die hof stap en wil nou die hele aangeleentheid agter die rug sit.
Die saak is teruggetrek omdat die getuienis teen hulle glo onvoldoende was.
Mnr. Edwin Nel van die Gemeenskapspolisiëringforum (GPF) was woedend toe die saak teruggetrek is.
“Dis onmoontlik dat daar onvoldoende bewyse kan wees. Is Adriaan nie bewyse genoeg nie, wat van die twee mans se verklarings?”
Nel het gesê dat hofdatums ook geskuif is sonder om hulle in kennis te stel. Hy is ook verbaas omdat hy betrokke was by die twee mans se arrestasie en daar nog geen verklaring by hom geneem is nie.
Die twee mans is op Vrydag 15 April deur die GPF gearresteer nadat minderjarige Adriaan Keyter in Witbank Hospitaal beland het toe hy sy bewussyn verloor het nadat hy ’n oordosis van die dwelm gespuit het. Hy was ’n week lank in die intensiewe sorgeenheid.
Adriaan se ma, me. Trudie Snyman het gesê die twee mans het haar seun by die huis kom haal onder die voorwendsel dat hulle ’n afskeidspartytjie vir hom gereël het. Die familie was reeds gepak en reg om Muldersdrif toe te trek.
Die mans het glo in ’n verklaring gesê dat hulle gekyk het toe Adriaan die heroïne gespuit het.
Snyman en haar gesin het intussen weer Ga-Nala toe getrek.
Sy het gesê sy is bitter,
“Die pastoor sê ek moet vergewe. Hoe vergewe ek die twee wat my seun soveel skade aangedoen het?”
Snyman het gesê Adriaan onthou nog niks van die betrokke dag nie.
“My seun se lewe het handomkeer verander. Hy is stadiger en hy sukkel om te lees en te skryf. Die medikasie wat hy gebruik werk ook nie,” het sy gesê.
Een van die verdagtes se ma, me. Petro Holloway het gesê sy wil nou net haar seun se naam skoonkry,
“Ons het deur hel gegaan. Ons hele lewe was op ‘hold’ gesit. Ek en my seuns gaan nou aan en ek gaan alles in my vermoë doen om sy naam in ere te herstel.”
LEES OOK:
