CrimeNews

Karre word boewe se gunsteling

In die afgelope week is daar meer as agt voertuie, waaronder trokke, gesteel in die Steenkoolstad.

Dit wil voorkom of karre deesdae diewe se teiken is, nadat verskeie karre die afgelope week gesteel is.
In die afgelope week is daar meer as agt voertuie, waaronder trokke, gesteel in die Steenkoolstad.
Me. Marie Sykes was een van die slagoffers wie se kar op 5 Julie gesteel is.

“Ek en my man het bank toe gery en maak maar altyd gebruik van die bank by die Sanlam Sentrum omdat dit so stil is,” het Sykes gesê.

Volgens Sykes was hulle net vir ’n paar minute van hul motor weg toe haar man terug moes draai om dokumente in die voertuig te gaan kry.

“Hy het afgekom op ’n leë parkering en my dadelik kom roep,” het sy gesê.

Die egpaar het paniekerig geraak en begin rondvra. ’n Dame wat werk by ’n nabygeleë waterwinkel het hulle vertel dat dit glo die vyfde voertuig is in ’n kort tydperk wat in die einste parkeerterrein gesteel is.

“Toe ek die karwag, wat kamstig gewaak het oor my voertuig vra of hy dalk iets gesien het, het hy ietwat skuldig, nee geantwoord. Maar ek kan nie net op die uitdrukking van sy gesig sê hy is skuldig nie,” het sy genoem.

Sykes het verder vertel dat haar voertuig nie die enigste skade is wat gely is nie, aangesien die dief weg is met persoonlike dokumente asook al hul sleutels.

“Dit was dalk ’n ou motor, maar hy was meer werd as wat my versekering my gaan uitbetaal. Waar in vandag se lewe het jy nog so hoop kontant wat net rondlê om by te las om weer ’n goeie karretjie te koop?”

Die model en maak van die Sykes-egpaar se voertuig is ’n 1986 metaalblou Ford Meteor, met die registrasienommer CCF 712 MP.

“Die motor het ’n skraap op die linkerkant en al vier vensters het die enjinnommer op. Ek glo dat ek my voertuig nog kan vind, en vra die gemeenskap om ook ’n ogie oop te hou vir die kar, ” het sy bygevoeg.

In ander soortgelyke gevalle soos die het nog inwoners klagtes van voertuigdiefstal by Witbank Polisiestasie aangemeld.

Op 7 Julie het ’n man op sy nugter maag besef sy voertuig is uit sy erf gesteel. Volgens mnr. Sibosiso Gama was hy op pad na sy motor om werk toe te ry,

“soos ek om my huis geloop het, het my oog dadelik gevang dat my kar nie meer staan waar ek hom parkeer het nie. Hy was net weg.”

Woordvoerder van Witbank Polisie, kapt. Eddie Hall het die volgende oor kardiefstal te sê,

“ons sien dat die meerderheid van die voertuie wat deesdae gesteel word ou modelle is. Die kardiewe steel hoofsaaklik die voertuie vir hul parte omdat dit nie meer beskikbaar op die mark is nie. Ons mense moet maar nog sekuriteitsmaatreëls in plek sit en ook gebruik maak van die karwagte. Hulle werk nie teen ons nie, maar saam met ons.”

Die polisie is op die oomblik besig om al die karwagte by besigheidskomplekse te evalueer en seker te maak dat hul bevoeg verklaar word om hulle dienste te lewer.

“As jy by ’n winkelsentrum parkeer, maak gebruik van die sekuriteitswagte,” het kapt. Hall ten slotte gesê.

LEES OOK:
Dief beloof hy gaan nou kerk toe
“My voertuig steeds skoonveld”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button