CrimeNews

Twee winkels loop deur onder boewe

“Hulle het presies geweet waar alles is, hulle het net konstant gevra vir die geld"

‘n Gewone Saterdagoggend sou begin het soos meeste ander, maar vir die bestuurder en paar personeellede van ’n bekende winkel in Klipfontein, het dit ontaard in ’n dag wat baie trauma nagelaat het.

“Ek het by die werk aangekom en het twee wit voertuie opgemerk wat by die kuierplek oorkant die pad gestaan het. Ek het aanvanklik gedink dat die mense nog kuier. Dit is immers 06:00 die oggend en vir ’n Vrydagaand en Saterdagoggend is dit nie onmoontlik nie, aangesien daar nog flikkerligte binne die kuierplek was. Ek het oopgesluit, ons was vier personeellede en vier skoonmakers. Ons daaglikse roetine het gevolg waar ons die trollies uitgevat het buite toe en begin skoonmaak het voor die winkel se deure oopmaak vir besigheid,” het die bestuurder van die winkel vertel.

Sy het ook gesê dat sy besig was in die bestuurhoek toe sy net skielik ’n gil gehoor het van binne die winkel.

“Hierdie tyd is die deure steeds gesluit en niemand kan van buite inkom nie. Die draaideur van buite werk met vingerafdrukke en ons het gedink dat ons redelik veilig is, aangesien niemand sommer net kan inkom nie. Hulle het die skoonmaker se hand forseer om die deur met sy vingerafdruk oop te maak. Toe ek by die pilaar kom in die bestuurhoek, het ek in die loop van ’n geweer vasgekyk. Die ander rowers was toe al agter die kiosk in,” het sy verder vertel.

“Hulle het presies geweet waar alles is, hulle het net konstant gevra vir die geld en die kluis se sleutels. Hulle het direk na die kontantkantoor gegaan, en al die kontant gesteel. Hulle het ook baie sigarette gevat, maar net een soort. Hulle is by dieselfde deur uit en die einste Ford Focus ST wat ’n paar minute vroeër oorkant die pad gestaan het, het vir hulle op die stoep gewag en hulle is weg. Alles het in ’n kwessie van 12 minute gebeur. Die ander voertuig was ’n wit Volkswagen Polo, albei sonder nommerplate en met donker vensters,” het die bestuurder verder vertel.

Ook het sy bygelas dat die rowers professioneel voorgekom het, en hulle het alles beslis haarfyn beplan. Sy het ook gesê dat hulle groot gewere gehad het met twee vol magasyne.

“Baie van my personeel is steeds nie by die werk nie, as gevolg van die trauma. Almal is baie getraumatiseer. Die enigste werker wat beseer is, was die meisie agter die kiosk-toonbank. Die rowers het haar met die agterkant van ’n geweer op haar blad bygekom en sy het redelik seergekry. Sy is ook steeds nie terug by die werk nie en die ander is net behandel vir skok,” het die bestuurder ten slotte gesê.

Nog ’n inbraak, ’n dag later het ook groot skade nagelaat. Op Sondag, 14 Augustus omstreeks 18:03 het agt rowers die deur van ’n drankwinkel afgebreek. Dit is in dieselfde kompleks as die bogenoemde inbraak en hier is al die duur drank weggedra. Volgens die bestuurder van hierdie besigheid, het die drankwinkel nie oopgemaak vir besigheid die dag nie en almal was in die ander winkel doenig. Een kettingwinkel met twee ingange het gesorg vir gemaklike toegang tot die drankwinkel, sonder dat iets verdag opgemerk was.

“Alhoewel die besighede verbind is, het elkeen sy eie alarmsisteem en ook sekuriteitskameras. Hulle was vir drie minute besig en het daarna met al die duur drank gevlug. Ook het hulle geweet waar alles was en hulle het ingekom en presies geweet wat om waar te gryp. Hulle was baie spesifiek en het slegs op die duur drank beslag gelê,” het die bestuurder vertel.

Hy het ook gesê dat hulle handskoene gedra het, asook balaklawas.

Volgens die bestuurder van eersgenoemde inbraak, het dieselfde twee voertuie die Sondagoggend by die drankwinkel gestaan.

“Die werkers se vervoer laai hulle daar af, dan loop hulle net om werk toe. Hulle het dieselfde twee voertuie daar sien staan, die Polo by ontvangs en die Focus by die ingang. Hierdie keer was die nommerplate van die voertuie sigbaar, en later het ons gehoor van hierdie inbraak. Ons winkel was met al die inbrake in die omgewing nie een keer geaffekteer nie, maar ons het vermoed dat ons wel op hul lysie was,” was haar woorde.

’n Saak van kardiefstal is ook oopgemaak by die Witbank Polisie, en kapt. Eddie Hall, mediawoordvoerder van die Witbank Polisie, het bevestig dat hierdie voertuig gesteel was na die tweede rooftog, Sondagaand. Die eienaar van die voertuig het bevestig dat hy ’n wegneemete wou gaan koop, toe sy kar gesteel is. Kapt. Hall het ook bevestig dat die kar steeds nie opgespoor is nie en ook dat dit een van die wegkomvoertuie van die rowers was.

LEES OOK
Inbraak na toemaaktyd
Een inbraak nie genoeg nie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button