Tannie Gwen verlaat die stad
Koolvelde wat daardie jare skoolklere, materiaal en ook later kruideniersware verkoop het, het tannie ‘Lin’ na aan die hart gelê.

Margaretha Gertruida Linde (88), oftewel tannie Gwen, het na 67 jaar eMalahleni verruil vir ’n aftreeoord in George.
“Ek dink my ma was meestal bekend vir haar jare by Koolvelde Handelaars, jare gelede,” het me. Retha Visagie, haar dogter gesê.
Koolvelde wat daardie jare skoolklere, materiaal en ook later kruideniersware verkoop het, het tannie ‘Lin’ na aan die hart gelê.
“Hierdie bynaam het haar al die jare bygebly, en dit is steeds hoe meeste mense haar onthou.
Sy is met Frikkie Linde getroud en het kort daarna eMalahleni toe verhuis in 1949,” het Retha vertel.
Sy het ook bygevoeg dat tannie Gwen in Klerksdorp gebore is, by Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom haar skoolloopbaan voltooi het en daarna na Pretoria verhuis het. Hièr het tannie Gwen die man van haar hart ontmoet en hulle is daar ook getroud.
“My ma is nou by my in George, in ’n aftreeoord, na ons hierheen verhuis het einde Mei. Ek en my broer het hierop besluit en ons aftreehuis is regoor die aftreeoord waar my ma tans is. Sy het gedink sy gaan net bietjie hier kom kuier, want sy het vir almal gesê dat sy hulle beslis weer gaan sien, toe almal haar gegroet het. Met haar aankoms in George, het ons voor die aftreeoord stilgehou en sy het verward gelyk, en ek dink hier het die besef deurgedring dat sy hier is om te bly. Sy het later met haar vriendin oor die telefoon gesels en gesê dat sy in haar kamer sit en oor die berge uitkyk, sy is nou by haar nuwe tuiste. Sy was aan die begin baie skepties, aangesien sy vir baie jare ’n inwoner van Edenpark was en haar ‘hartsvriende’ steeds daar is. Maar ons dank die Here dat sy vinnig gewoond geraak het aan die idee. Ons het onsself ook voorberei op die ergste met die ‘groot skuif,’” was Retha se verdere woorde.
Tannie Gwen het vir 16 jaar in Edenpark se woonstelle gebly, waar sy koekies gebak het op bestelling. Retha het vertel hoe haar ma tot vyf kilogram koekies ’n week gebak het en oor die kerstyd, ongeveer 14 kilogram ’n week.

Alwyn Fouchè (oud-burgemeester) van Witbank en Mattie Schoeman saam met tannie Gwen Linde.
“Sy het dit gestaak na haar ligte beroerte in 2009, toe sy begin besef sy kan nie meer onthou of sy bakpoeier ingegooi het nie. Sy was ’n rukkie daarna in die eenheid vir verswakte bejaardes in Edenpark geplaas, en nou is Groenkloof Aftreeoord haar splinternuwe tuiste,” het Retha verder gesê.
Sy het haar ma as ’n positiewe en dankbare mens beskryf. “
My ma het ’n leuse waarby sy lewe: ‘Ek doen wat ek kan, so goed ek kan, so lank ek kan,’ en sy het werklik ’n indruk gemaak op baie mense se lewens in eMalahleni. Sy is so ‘n nederige mens en ek dink die mense sal haar veral onthou van haar dae by Koolvelde en ook haar koekies wat sy graag gebak het,” het Retha bygevoeg.
Sy het genoem dat die besluit om haar ma saam te neem George toe, ’n gesamentlike besluit was deur haar en haar broer, Erik Linde.
“Hy woon in Secunda en omdat ons George toe verhuis, het ons gevoel dat ons nie van ander kan verwag om na ons ma om te sien en te help nie. Alhoewel daar vriende is wat uit hul pad vir haar sal gaan, het ons gevoel dat dit beter is as sy naby een van ons is. George was ’n geskikte opsie, aangesien ek sommer oor die pad van haar gaan wees en ons gereeld lekker kan kuier” het Retha afgesluit.
