
Met kapings wat toeneem en rowers wat rondry op soek na hulle volgende teiken het ’n man wonderbaarlik uit die kloue van booswigte gekom.
Om jou voertuig te verloor is een ding maar om amper jou lewe saam met ’n voertuig te verloor is ’n ander ding. Op 27 Augustus het ’n inwoner van eMalahleni amper beide oorgekom.
“Ek was op pad terug van die werk af met my werksbakkie op die Tweefonteinpad, toe ’n trok my en nog ’n voertuig voor my so bietjie agter hou. Ek het my kans gewaag om die trok verby te steek toe ek sien dat daar geen aankomende karre in die ander laan was nie,” het die man, wat verkies om anoniem te bly, gesê.
Die wit voertuig wat voor hom gery het, het glo skielik begin rem en hy het agter in die voertuig vasgery.
“Ek het gesien hoe die voertuig van die pad af ry en tot stilstand gekom het. Dus het ek ook langs die pad afgetrek om te kyk of die drywer seergekry het,” het hy bygelas.
Verder het hy beweer dat hy in sy truspieëltjie ’n blou BMW agter hom stadig sien aankom het en gedink dis ’n verbyganger wat hulp wil aanbied.
“Die persoon in die BMW het tot langs my bakkie se venster gery en sy donker venster oopgemaak met ’n vuurwapen in sy hand en die wapen op my gerig,” het hy gesê.
Dis waar die slagoffer besef het om voet in die hoek te sit en weg te jaag net om te sien dat die verdagte sterk op sy spoor is.
“Ek het gejaag soos ’n besetene omdat ek al voorheen amper gekaap is. Ek het elke afrit gevat om te sien of die BMW my steeds agtervolg, en hy het!” het hy vertel.
Hy het glo by ’n grondpad afgedraai en gesien dat sy agtervolger in die teenoorgestelde rigting draai.
“Ek was verlig om hom te verloor, maar toe gebeur die ergste. My bakkie het uitgesny en dit net enkele kilometers van die indraai, langs die pad,” het hy gesê.
Angstig en gestrand na ’n amper kaping het die slagoffer na die naaste bosse gehardloop en sy werkgewer gebel.
“Ek was bang hulle kom terug en sien die bakkie lewensgroot daar staan. Na wat gevoel het na ure het werkgewer my kom help sonder dat die verdagte teruggekom het om my te soek,” het hy verlig vertel.
“Ek voel sleg omdat ek nie teruggekeer het na waar ek die kar gestamp het nie, maar dink persoonlik dit was beplan.”
Woordvoerder van die polisie, kapt. Eddie Hall het gesê,
“daar is ’n groot toename in kar- en trokkapings. Om dit te vermy kan drywers wat gebruik maak van nasionale paaie net meer paraat wees. Die trokkapings is gewoonlik drywers wat langs die pad stilstaan om te slaap en voetgangers oplaai. Hulle sal dit moet vermy en eerder gebruik maak van die trok pitstoppe.”
LEES OOK:
Verwag enige tegniek vir kapings
Kapers sit jou in jou kattebak en gaan ‘cruise’
