Local newsNews

‘Bybelman’ is huis toe

“Ek verlang na my seun. Vat my asseblief na my kind toe,”

Op die plaas Kwaggafontein, so skuins voor Carolina, het die vreugdesvure die naweek in die De Wet familie se harte gebrand.

Die hoek van Louis Trichardt- en Christiaan de Wetstraat is leeg, want Jacques de Wet is huis toe.
Jacques het die harte van WITBANK NUUS lesers aangeraak toe daar van nader kennis gemaak was met die man wat elke dag op sy pos gesit en sy Bybel gelees het langs die bordjie waarop geskryf was: “Lost everything please help with food and donation”.

ze381-1rs
Emosie het Jacques de Wet oorweldig na ’n telefoongesprek met sy ouers op Donderdag 15 September.

Dié berig is deur Jacques se broer Jan raakgelees wat WITBANK NUUS elke week in Belfast koop en deurvat plaas toe. Jan het dadelik besef dis sy broer waarna hulle soek.

VIDEO HIER:

In ’n e-pos het Jan die joernalis gevra om Jacques te vra om hulle te bel. Jacques het intussen weer ’n deeltydse werkie gekry en vir weke was sy hoek leeg.

ze381-2rs
Pa Jan de Wet hou sy seun Jacques styf vas.

Op Donderdag 15 September het die joernalis Jacques opgespoor en hom in verbinding met sy familie gesit.
Trane het oor sy wange geloop toe hy vir die eerste keer in meer as ’n jaar met sy ouers kon praat.
Die volgende oggend vroeg het pa Jan, ma Cornelia en sy suster ook Cornelia voor WITBANK NUUS se kantore gestop.

“Ek verlang na my seun. Vat my asseblief na my kind toe,” het ma Cornelia fluisterend gesê oorweldig deur die emosies wat soos ’n vloedgolf deur haar gebruis het.

Die ontmoeting is soos ’n rolprent wat afspeel. Jacques was so verbaas om sy familie te sien. Ma Cornelia het haar seun styf vasgedruk asof sy hom wil beskerm teen die storms wat binne hom woed.

Toe het pa Jan na vore getree. Die lyne op sy gesig vertel dat hierdie boer hard werk, sy hande getuig van grond, van lewe, hande wat tug en tog saggies oor sy vrou se wang vryf. Dit was dieselfde hande wat gebewe het toe hy sy seun vashou. Druppels van waardevolle ouerliefde het oor sy wange gestroom toe hy sê:

“Dis my seun die. Ek gaan nie plaas toe sonder hom nie.”

Die verlore stukkie is in die De Wet familie se legkaart gevind, en dit pas perfek. Jacques se hart wat deur smart en die einas van die lewe leeggetap was is nou reg om weer gevul te word met liefde. Daar op die Kwaggafontein gaan hy probeer om die skerwe van sy lewe op te tel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button