
Yvette Burger se borg is verlede week geweier.
Na die derde keer dat Burger in die hof verskyn het vir ’n formele borgaansoek het Landdros Daleen Venter dit Woensdag 14 September geweier.
Burger het in ’n openhartige onderhoud met WITBANK NUUS erken dat sy haar ma, me. Ester Burger (62) en haar suster me. Caren Burger (35) in die vroeë oggendure van 20 Augustus met ’n 9mm geskiet het.
Sy het daarna alkohol en pille gedrink.
“Ek het gedink as ek goed getrek is sal ek die ‘guts’ hê om dit te kan doen,” het sy gesê.
Daarmee het sy verwys na ’n gesprek wat sy glo met haar ma gehad het waartydens haar ma haar blykbaar gevra het om hulle te skiet en dan haarself ook.
Burger se eerste verskyning was Maandag 22 Augustus op die rol geplaas, maar omdat sy onder polisiebewaking in die hospitaal was kon sy nie die hofsitting bywoon nie.
Die saak is daarna uitgestel vir verdere ondersoek.
Op 30 Augustus het sy vlugtig verskyn en sy is toe oorgeplaas na Middelburg Gevangenis toe.
’n Week later het die ondersoekbeampte sers. Marius Etsebeth haar borg teëgestaan en getuig dat die hoofrede vir sy aansoek Yvette en haar pa, mnr. Lloyd Burger se veiligheid is.
Me. Venter het die saak tot 19 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek.
LEES OOK:
EKSKLUSIEF: ‘My ma het gevra ek moet hulle skiet as hulle slaap’
Gesinsmoord eis twee
