
Die inwoners van eMalahleni snak een vir een na asem soos rou riool hul tuine bedek en die gras laat vrek.
“Dis nie eers meer van ’n week se gekla nie, ons trek al by twee maande se soebat en smeek, huil en dreig, maar tevergeefs,” het me. Ansie gesê oor hulle aanhoudende probleem met verstopte dreine.
In Wimbledonstraat net voor die groot storms kom ruk en pluk het, het ’n aaneenlopende drein veroorsaak dat Ansie se Populierboom ontwortel is.
“Ek het nog so ewe ’n grap gemaak met my seun en gesê dat hierdie ’n mensgemaakte ramp was, van al die maande se rou riool wat my tuin natgemaak het,” het Ansie gesê. Verder het sy vertel dat sy elke dag op haar telefoonlyn lê om deur te kom na iemand wat haar en die inwoners rondom haar kan help, maar word net elke keer verwys na nóg ’n persoon. “Ek het seker al met al die lede by die munisipaliteit gepraat maar kon net nog nie die regte persoon in die hande kry nie,” het Ansie gegrap.

Die riool wat me. Ansie Booysens se hele grasperk bedek vir meer as twee maande. Die alewige verstopte drein het veroorsaak dat ’n boom uit die grond wortel omdat die grond sag geword het van die vog.
Die skade wat hierdie riool veroorsaak word uit Ansie se sak betaal, “maar darem het ek versekering,” het sy bygevoeg.
Net ’n paar blokke verder sit die Shcutte-gesin ook in ’n tuin vol riool wat ook hul bure benadeel.
“Ek gaan seker sowat drie jaar al aan oor die drein wat na elke twee tot vier weke begin opborrel,” het mnr. Karel Schutte wat woonagtig is in Courserstraat, gesê.
Hy het verder vertel hoe die munisipaliteit al hul roete na sy tuiste te goed ken maar kan net nie die probleem eenkeer kom regmaak en klaarkry nie.

Nog ’n spierwit bedekte grasperk van mnr. Karel Schutte wat die munisipaliteit al menigte kere laat uit kom vir dieselfde probleem.
“Hulle verstaan nie ons inwoners se frustrasies nie. Ek meen al die inwoners maak tuin vir die somer terwyl ons klomp, ons tuine afsper vir ons troeteldiere en kinders,” het hy moedeloos gesê.
Raadslid van Wyk 18, me. Landi Breetzke meen dat die probleem by eMalahleni se infrastruktuur lê.
“Hierdie is ons dorp se alledaagse probleme maar dis nie net nuwe probleme wat opduik nie. Dit is meeste van die tyd ’n ou probleem wat weer opduik. Die inwoners is al so moeg gevra en gebel net om te hoor dat daar nie ’n span of voertuig beskikbaar is nie. Daar word net nuwe uitbreidings gebou en gastehuise gestig maar daar word nie na die sanitêre deel van die ontwikkelinge gekyk nie. Voordat die infrastruktuur, mannekrag en kundigheid van dié mens nie aandag kry nie, gaan niks verander nie. Die DA sal alles moontlik doen om hierdie probleem reg te stel,” het sy gesê.
Die munisipale bestuurder, mnr. Theo van Vuuren het teen druktyd nog geen kommentaar op WITBANK NUUS se navrae gehad nie.
“Ons kan maar vergeet van kunsmis vir die gras die somer,” het Ansie ten slotte gesê.
