
Koedoestraat is nie ’n gemaklike pad vir enigiemand om in te ry nie. Dr Anita van Kraayenburg en ander besigheid eienaars het al talle klagtes hieroor geloods na die munisipaliteit, maar niks word aan die pad gedoen nie.
Sy het Maandag 21 November vertel van die moedeloosheid wat heers, elke keer as daar op hierdie pad gery word.
“Besighede in hierdie area ly vreeslike skade, en absoluut niks word aan hierdie pad gedoen nie. Hulle het al die pad geteer, maar net tot waar die besighede begin en toe gestop. Ons het gaan vra hoekom dit net so stukkie geteer word, toe word ons geantwoord dat daar nie geld is om verder te teer nie. Hierdie pad is onrybaar en ons is raadop na vier jaar se klagtes,” het sy gesê.

Die toestand van Koedoestraat wat besighede in die gebied erg benadeel.
Mnr. Theo van Vuuren, munisipale bestuurder het Dinsdag 22 November gesê dat inspeksie gedoen is en ongeveer 100 ton teer nodig is, en die koste daaraan verbonde is in die gebied van R100 000.
“’n Aparte aankoopbestelling moet gedoen word vir hierdie straat, aangesien die beskikbare teer minder as 100 ton is. Ons verwagting is dat dit binne die volgende drie weke sal gebeur,” het Van Vuuren gesê.
Op Woensdag 23 November het Van Kraayenburg weereens die WITBANK NUUS geskakel en gesê dat besighede hierdie probleem in eie hande geneem het, maar met die reën later die aand, het dit in ’n katastrofe uitgedraai.
“Ons sien nog geen vordering, ons hoop Van Vuuren maak werk van sy beloftes. Ek voel dat ons, as inwoners van die stad en besigheid eienaars voordele moet geniet dat daar aandag gegee moet word aan ons paaie. Ons as eerlike belastingbetalers en is geregtig daarop,” was Van Kraayenburg se laaste woorde.
