MunicipalNews

AfriForum Witbank-tak oorhandig wenslys aan munisipaliteit

Die wenslys volg nadat die tak verskeie gemeenskapsprobleme en -prioriteite geïdentifiseer het wat tot op hede nog nie deur die munisipaliteit in sy geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) aangespreek is nie.

Die burgerregte-organisasie AfriForum se Witbank-tak het ’n wenslys aan mnr. Theo van Vuuren, munisipale bestuurder, oorhandig.

Die wenslys, wat op Dinsdag 7 Februarie oorhandig is, volg nadat die tak verskeie gemeenskapsprobleme en -prioriteite geïdentifiseer het wat tot op hede nog nie deur die munisipaliteit in sy geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) aangespreek is nie.

Mnr. Leon Viviers, sekretaris van AfriForum se Witbank-tak, sê dat watervoorsiening een van die grootste probleemareas is. Die opspoor en herstel van verstoppings het verbetering teweeg gebring, maar ’n groot aantal asbespype moet egter nog vervang word. Tans ervaar eMalahleni ’n daaglikse watertekort van 16 megaliter, met die ergste tekort wat in die oostelike gedeeltes van die dorp voorkom.


AfriForum het Dinsdag 7 Februarie ’n wenslys aan Emalahleni Plaaslike Munisipaliteit oorhandig. Hier is (van links): mnr. Hillel Coetzer, AfriForum streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes, mnr. Theo van Vuuren, Munisipale Bestuurder en mnr. Leon Viviers, AfriForum sekretaris, Witbank-tak.

“Volgens die munisipaliteit sal die probleem teen Mei opgelos wees. Sou Eskom egter die elektrisiteit op die beplande tye afsny, sal dit herstelwerk aansienlik rem,” aldus Viviers.

Ander probleme wat onder die munisipaliteit se aandag gebring is, sluit stadsraadsvoertuie, drinkwater, watermeters, straatligte, die wanbetaling van rekeninge en rioolprobleme in. ’n Maandelikse vergadering sal voortaan gehou word om oplossings vir bestaande probleme te probeer vind, asook om projekte vir die plaaslike tak te identifiseer.

“Uitstaande elektrisiteitsrekeninge is ook met die munisipaliteit opgeneem. Ten spyte van die ruim afslag wat aan agterstallige rekeninghouers gebied word, is daar ’n traagheid om dit te vereffen. AfriForum wil ’n beroep op elke belastingbetaler doen om sy/haar verpligtinge na te kom en te verhoed dat Eskom die elektrisiteitsonderbrekings op die voorgestelde spitstye implementeer,” sê mnr. Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.

“Hoë munisipale waterrekeninge is ’n ander groot probleem en die publiek word versoek om buitengewone hoë waterrekeninge onmiddellik met die stadsraad op te neem,” versoek mnr. Alf Friess, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45350 (R1 per SMS).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button