Integriteit.
Dit is wat jy welkom heet by Laerskool Kragbron wanneer jy mnr. Gerhard Smit ontmoet.
Hy het op Maandag 20 Mei sy eerste dag by die skool afgeskop en hy is kinderlik opgewonde oor sy splinternuwe uitdaging.
Dié voormalige Adjunkhoof van CR Swart in Middelburg vind nog sy voete in die warboel van mense wat hy moet ontmoet en geselsies mee aanknoop, maar een ding is verseker – Skool is sy passie.
Hy was vir 10 jaar en vyf maande by CR Swart en het die vraag: ‘Wat bring jou Kragbron toe?’ Geantwoord:
“Ek het slegs die menslikheidsfaktor toegepas, maar my pad was lankal vir my uitgewerk.”
Dié boorling van Uppington in die Kaap het sy onderwysdebuut in Pretoria gemaak en later is hy Middelburg toe.
“Ek laat tans my vrou agter by CR Swart, sy is ’n onderwyseres daar. My seun is in matriek en my dogter in graad 8, beide leerders van Hoërskool Middelburg. My seun is vreeslik geïnteresseerd in rekenaars terwyl dit blyk of my dogter neig na onderwys,” het hy laggend vertel.
Hy het vertel dat hy darem nie totaal vreemd is nie, hy het al so dag of drie gehad om by Laerskool Kragbron te kom inloer en homself bekend te maak met die skool voor hy amptelik hier begin het.
“Ek is baie opgewonde oor die skool. Ons moet die skool geliefd hou onder die leerders, personeel en gemeenskap. Ons moet hulle gelukkig maak. Ek het nie hierheen gekom om die skool te verander nie. Ek het hierheen gekom om meer geleenthede te skep waar mense vir mekaar omgee. Dit moet duidelik sigbaar wees in ons elke dag,” het hy verder gesê. “Ons moet gelukkige kinders, ouers en mense kweek wat tyd het vir mekaar.”
Hy het gesê dat hy hoop sy tyd by die geliefde laerskool vrugtevol sal wees met die visie wat hy vir die skool stel.
“Ek stel ’n baie hoë premie op integriteit. Ons wil Kragbron ’n uitsonderlike skool hou waarmee ouers en kinders geassosieer wil word. En natuurlik wil jy bietjie meer van jouself insit,” het Gerhard bygevoeg.
“Ons wil hê ouers moet aanhou om hul kinders hiernatoe te stuur. Hoe die skool lyk, is natuurlik jou bemarking. Daaraan sal ek niks verander nie.”
Ten slotte het Gerhard gesê dat sy gemoed lig is en hy glo vas dat wanneer jy met so gemoed iets nuut aanpak, jy kans sien vir baie.
“Ek wil net hê mense moet vir mekaar omgee.”
