Laerskool Panorama heet ’n splinternuwe gesig welkom
Hy is nou eers bietjie meer as ’n week by Laerskool Panorama maar hy het vertel dat hy reeds tuis voel hier en dat hy baie uitsien na wat op hom wag
Laerskool Panorama heet ’n splinternuwe gesig welkom by die skool, al die pad van Standerton.
Jaco Venter het op Maandag 5 Augustus by die skool aangesluit as die nuwe adjunkhoof en met al die kennis wat hy ronddra sal hy beslis ’n groot aanwins vir die skool wees.
Hy het vertel dat hy oorspronklik van eMalahleni af kom.
“Ek is hier gebore, maar ons het Ermelo toe verhuis toe ek vyf jaar oud was na my pa se werk hom oorgeplaas het. Wie sou dink dat ek 34 jaar later hier sou kom skoolhou as adjunkhoof,” het hy vertel. Jaco het ook vinnig sy werkervaring opgesom: “Ek het my onderwysloopbaan by Laerskool Ermelo afgeskop in 2008 en in 2009 my BED-honneurs gedoen. Ek het in 2013 by Laerskool Kallie de Haas begin in Standerton, as departementshoof en nou is ek hier.”
Hy is nou eers bietjie meer as ’n week by Laerskool Panorama maar hy het vertel dat hy reeds tuis voel hier en dat hy baie uitsien na wat op hom wag.
“Ek hoop natuurlik om ’n verskil te maak.” Jaco spog met ’n BA-graad in menslike bewegingskunde en sielkunde en daarna het hy sy nagraadse onderwyssertifikaat gekry by NWU-Pukke. Jaco het vertel dat hy reeds ’n ruk lank gaan vir onderhoude, maar dat hierdie werklik net die regte een was. “Ek was maar nog al die tyd by laerskole, al is ek eintlik opgelei om by ’n hoërskool skool te gee. Ek geniet die laerskole baie en jy sien so groot verandering in die laerskoolkinders. Jy sien ook die enorme invloed wat jy op elke leerder het,” het Jaco verder gesê.
Hy is enkellopend, so hy het gesê dat die skuif nie ontwrigting veroorsaak het nie, maar dat hy uitsien na die lekker nuwe uitdaging wat op hom wag.
“Ek gee tans nie klas nie, maar ek vermoed dat ek in die nabye toekoms natuurwetenskap en tegnologie sal gee, soos ek ook maar gedoen het in Standerton.”
Jaco het ten slotte gesê: “My motto in die lewe is: Moet nooit opgee nie. Doen altyd die beste wat jy moontlik kan en glo in jouself.”
