Koelbloedig vermoor in sy eie oprit
Die rowers het aanhoudend aangedring op kontant en vir haar gesê dat hulle weet daar is kontant in die huis omdat haar man ’n besigheid het
’n Man is Woensdagoggend tromp-op in sy eie erf doodgeskiet.
Mnr. Peet Swanepoel (51) is Woensdag, 28 Augustus net voor 08:00 by sy huis in De Klerkstraat, Del Judor 1 deur rowers verras.
Daar word beweer dat die rowers enkele minute na Swanepoel werk toe is, toegang tot sy eiendom, waar sy vrou en kleinkind in die huis was, verkry het.
Me. Annelize Swanepoel is aangerand en die rowers het haar glo gedreig dat hulle haar kleinseun sal seermaak as sy nie vir hulle gee wat hulle soek nie.
Die rowers het aanhoudend aangedring op kontant en vir haar gesê dat hulle weet daar is kontant in die huis omdat haar man ’n besigheid het.
Die rowers het twee van mnr. Swanepoel se vuurwapens gevat asook ander items voor hulle die voertuig, ’n Suzuki Swift, wat in die erf gestaan het, gevat het om te vlug.
Terwyl die rowers nog doenig was in die erf, het mnr. Swanepoel teruggedraai huistoe omdat hy gereedskap by die huis wou gaan haal.
Hy het tromp-op in die rowers wat oppad uit was vasgeloop, waarop die een rower hom noodlottig geskiet het, na bewering met sy eie vuurwapen.
Witbank Polisie was dadelik na die toneel ontbied na ’n histeriese buurman dit rapporteer het op hul buurtwag-groep.
“Ek was besig in my erf toe ek skielik net geweerskote hoor. Ek het dadelik gedink mense is besig om op mekaar te skiet in die straat, maar toe ek uitgaan om te kyk, het ek net gesien hoe Annelize se voertuig met ’n helse spoed verbyjaag,” het mnr. Marius Botha gesê.
Buurtwaglede het op die tragiese toneel afgekom, waar mnr. Swanepoel leweloos in sy oprit gelê het, hy was reeds oorlede. Me. Swanepoel is deur Legacy Ambulansdienste na Life Cosmos Hospitaal vervoer waar sy onder meer ’n breinskandering moet ondergaan.
Sy was teen druktyd nog in ongevalle op suurstof.
“Haar hele gesig was vol bloed en dit lyk asof sy in vreeslike pyn is, maar ons almal sal agter haar staan. Hulle is so geliefd in ons gemeenskap,” het ’n nabye vriendin van me. Swanepoel aan WITBANK NUUS gesê.
Die Swanepoels se drie-jarige kleinkind is gelukkig ongedeerd.
Enkele ure na die voorval gebeur het, is die verlate voertuig deur lede van CSC Tactical langs die N12-snelweg gevind.
Geen verdagtes of wapens is in die voertuig gevind nie.
Die Swanepoel-gesin was te getraumatiseerd na die gebeure en wou nie voor druktyd kommentaar lewer nie.