‘So gaan ons pappa onthou’
As daar gevra word hoe Swanepoel onthou sal word deur sy dogter, Lené en seun PC, dan praat die twee net met eer en respek oor hul held van ’n pa
Na mnr. Peet Swanepoel se wrede skietdood verlede week, het sy kinders hul harte oopgemaak oor hul pa se skielike heengaan.
“Pappa het met pappa se lewe betaal net om pappa se familie veilig te hou,” het Lené Swanepoel, gesê.
As daar gevra word hoe Swanepoel onthou sal word deur sy dogter, Lené en seun PC, dan praat die twee net met eer en respek oor hul held van ’n pa.
“Al was my pa ’n stil en teruggetrokke man, was hy ongelooflik wys en het altyd ’n plan gehad vir enige probleem wat ons voor sy voete gaan lê het,” het Lené vertel.
Hulle pa was baie lief vir visvang en meen hulle dat dit die beste herinneringe was van hul kinderlewe, “die naweke langs die viswaters en see vakansies met die boot.”
Ten tyde van die voorval was PC se seuntjie saam sy ouma in die huis gewees en het alles aanskou, maar volgens PC is sy seuntjie net so sterk soos sy pa.
“Franco is sterk soos sy oupa. Dit gaan onder omstandighede goed met hom, maar hy ontvang tans berading,” het PC gesê.
WITBANK NUUS het die twee kinders gevra hoe hul ma na alles aansterk en hulle het met sekerheid gesê dat hul ma ’n ystervrou is.
“Sy is ’n sterk vrou en is nou veilig by die huis, alhoewel sy haarself regmaak vir ’n lang proses van herstel glo ons steeds vas dat sy hierdeur sal kom,” het Lené bygelas.
Altwee die kinders bly sterk staan deur hierdie hele proses en glo dat hul sterker anderkant sal uitkom.
“My pa het ons grootgemaak om deur swaar tye sterk en saam te staan en deur sy afsterwe weet ons nou hoekom hy ons so grootgemaak het,” het Lené ten slotte gesê.
WITBANK NUUS het op 28 Augustus berig gelewer oor Swanepoel wat in sy eie erf doodgeskiet is met sy eie vuurwapen wat kort tevore uit die huis gebuit is deur rowers.
Die rowers het me. Annelize Swanpoel in die huis in Del Judor aangeval en gedreig om klein Franco seer te maak as sy nie gehoor gee aan hul eise nie.
*Die polisie is besig met ’n grootskaalse ondersoek na die verdagtes.
Intussen het ’n plaaslike inwoner, wat anoniem wil bly, ’n beloning van R30 000 aangebied vir enige persoon wat na vore kom met leidrade wat tot die arrestasie en skuldigbevinding van die skuldiges kan lei.
