Pasop vir rondlopers in die strate
Op die skermgrepe kan gesien word hoe die man eers vir ’n rukkie op die hek sit voor hy in die erf in spring
Die rustige woonbuurte van eMalahleni was nie so rustig die afgelope maand nie, weens rondlopers wat bose intensies het en inbrake daagliks verhoog.
Op 11 Augustus het ’n inwoner sy mede-inwoners in Reynorif/Ben Fleur gewaarsku oor ’n verdagte wat oor sy hek gespring het gedurende die dag en alles waarop hy sy hande kon lê, gevat het.
“Ouens wees versigtig vir die knaap. Ek het op my kamera’s gesien hoe hy eers die water toets voor hy oor my hek spring en my gasbottels en tuingereedskap een vir een wegdra,” het die inwoner op die South African Community Crime Watch (SACCW) se buurtwag groep gestuur.
Op die skermgrepe kan gesien word hoe die man eers vir ’n rukkie op die hek sit voor hy in die erf in spring.
“Ek is seker dis die manne wat by ons ook kom steel het so paar weke terug,” het nog ’n inwoner vertel.
Op 12 Augustus het nog ’n inwoner video-materiaal op die groep gestuur waar daar duidelik gesien kan word dat drie onbekende mans voor die hek van die inwoner staan en probeer kyk of enige iemand tuis is.

“Dis hoe hulle die mees kwesbaarste slagoffers uitlok, want wie weet watter wapens die booswigte net nie by hul dra nie,” het me. Ina van Dyk vertel.
Sy het verder vertel van ’n voorval wat so paar weke terug gebeur het, toe twee onbekende mans ook toegang tot haar erf gekry het terwyl sy alleen tuis was.
“My hondjie het vreeslik begin blaf en toe hoor ek hoe iemand aan my sekuriteithek begin ruk. Ek het nie eers gewaag om te gaan kyk nie en onmiddellik my alarm se paniekknoppie gedruk soos ek myself in my kamer toegesluit het,” het van Dyk aan WITBANK NUUS vertel.
Gelukkig het die sekuriteitsmaatskappy se reaksielede dadelik reageer op die paniek en die booswigte het gevlug sonder enige besittings van die gesin.
“Die wêreld raak net wreder by die dag en kan ek net ons God daar bo bedank dat Hy my veilig gehou het deur daardie dag,” het sy ten slotte gesê.
