Klein baba Lisa kort jou hulp
Lisa se mediese toestand moet elke tweede maand gemonitor word
’n Baie spesiale dogtertjie met die naam Lisa het dringend jou hulp nodig.
Klein Lisa is prematuur gebore op Kersdag 2020 op ongeveer 36 weke en ondergewig.
Sy was vir drie weke in die neonatale eenheid opgeneem.
’n Paar dae na haar geboorte het die mamma haar in die hospitaal agtergelaat.
Die CMR (Christelik Maatskaplike Raad) Witbank was in kennis gestel dat klein Lisa verlaat is deur haar mamma en die maatskaplike werker het dadelik begin om met die mediese personeel te kommunikeer en Lisa se toestand te monitor.
Lisa is ’n vegtertjie en het alreeds op só ʼn jong ouderdom haar veggees getoon.
Me. Melody Sungwa van die CMR Mpumalanga het vir die WITBANK NUUS gesê: “Sy het by geboorte vrugwater gesluk en het ook al verskeie episodes van ʼn tipe aanval beleef. Die oorsaak daarvan moet nog vasgestel word.”
Klein Lisa is op 21 Januarie met ʼn hofbevel beveilig en in ʼn tydelike plek van bewaring geplaas in een van die CMR se pleeghuise totdat ʼn volledige ondersoek gedoen kan word wat in haar beste belang sal wees.”
Die CMR kon nog nie daarin slaag om enige familie op te spoor wat kan help met meer inligting nie.
Vandat sy ontslaan is uit die hospitaal, moet sy elke tweede week terugkeer dokter toe om haar mediese toestand te monitor.
Dit lyk asof klein Lisa met baie spesiale behoeftes gebore is en benodig individuele versorging.
Sy moet spesifieke voorgeskrewe medikasie neem en ongelukkig kan die CMR nie alleen oor die fondse beskik nie.
Die CMR probeer om in nood die gemeenskap te betrek om te help waar dit dringend nodig is.
Klein Lisa gaan nog heel waarskynlik maandeliks dokter toe moet gaan.
Sy gaan vir baie lank nog mediese sorg benodig en die CMR sal ook moet soek vir ʼn geskikte langtermynplasing waar sy die nodige liefde en versorging kan ontvang.
Met die huidige ekonomiese klimaat in Suid-Afrika en die effek wat Covid-19 op almal het, raak dit vir die CMR al moeiliker om hul voortbestaan te verseker.
Die CMR se grootste uitdaging lê daarin om die lopende kostes te kan dek.
Die CMR ontvang gedeeltelike subsidie vanaf die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
Die CMR bestaan uit ʼn personeelkorps van 20 lede en hul grootste verantwoordelikheid lê in die statutêre dienste wat gelewer word aan die kinders en gesinne van ons gemeenskap.
Die CMR Witbank het die gemeenskap se ondersteuning dringend nodig, nou meer as voorheen om saam ʼn verskil te kan maak daar waar dit baie nodig is.
Enigiemand is baie welkom om die CMR te skakel vir meer inligting. Kontakpersone vir Lisa is: Marlise Bezuidenhoud, Charmane de Beer of Melody Sungwa en hulle kan gebel word op 013 692 4862.
Bankbesonderhede: CMR Witbank, ABSA Tjekrekeningnommer: 405 209 4055.
Lees meer:
Fondse ingesamel vir CMR Geskenkpapier –
Deel jou nuuswenke met ons via:
Telephone: 013 656 2490
WhatsApp: 060 866 8682
Email: wtbnews@mweb.co.za
Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms:
