Dié besigheid in Ga-Nala verdien ’n medalje
’n Plaaslike konstruksie maatskappy het oor die naweek slaggate in die Hoëveldse dorpie reggemaak.
Zakaria Konstruksie verdien ’n staande ovasie.
Dié maatskappy het Sondag, 30 Januarie Bokmakieriestraat en Honeybirdstraat in Ga-Nala ingevaar en slaggate gevul.
Raadslid mnr. Dirk Grobler het gesê die eienaar van die besigheid, me. Selinah Sihlangu en haar span het die slaggate op eie onkoste reggemaak.

Twee honderd ses en twintig sakkies teer is gebruik en meer as 100 slaggate is gevul.
“Met ’n munisipaliteit wat in alle opsigte faal met dienslewering is dit ons enigste opsie om die dorp te red. Dit bly steeds die munisipaliteit se verantwoordelikheid om dienste te lewer en hulle mag nie nou agteroor sit as die gemeenskap self inspring om die dorp te ‘red’ nie,” het Grobler uitgevaar.
Grobler het met die inisiatief vorendag gekom en op sosiale media gevra of die gemeenskap bereid sal wees om te help met die aksie.
“As ons elke Vrydag inspring en die slaggate vul, is ons dorp sommer binnekort weer pragtig. As ons betrokke raak en hand aan die ploeg slaan, gaan ons ’n verskil maak,” het Grober gesê.
Hy het genoem dat die inwoners se reaksie fenomenaal was en daar genoeg fondse is om die arbeid vir die vul van die slaggate vir die volgende twee maande te betaal.

Deel jou nuuswenke met ons via: Telefoon: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Epos: info@witbanknews.co.za Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms: Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking
