Duvhapark inwoners spring self in en ruim op
Daar was blikke, bottels, papiere en doeke
Gemors langs die pad gaan nie langer deur inwoners van Duvhapark geduld word nie.
Die plaaslike gemeenskap polisiëring forum (GPF) het Woensdag, 26 Januarie die ingang by die vierrigtingstop by Microstraat opgeruim.
“Ons het maklik 50kg tot 60kg se gemors opgetel. Daar was blikke, bottels, papiere en doeke,” het mnr. André de Kock van die GPF gesê.
Hy het genoem dat hulle beplan om die parke in die wyk skoon te maak sodra hulle genoeg fondse het om ’n trekker te huur.
In dieselfde asem het hy gesê hy sal bly wees as iemand ’n trekker vir hulle kan leen om die gras in die parke te sny. Mnr. Neil Schoeman, ondervoorsitter van die GPF het gesê hulle is al moedeloos gevra en gesmeek dat die gras in en om Duvhapark gesny word.
“Die parkies lyk absoluut sleg en dit is net ’n wegkruipplek vir skelms. Al wat die munisipaliteit sê is daar is nie geld nie en die masjiene is gebreek,” het Schoeman gesê.
Hy het gesê die inwoners is keelvol vir vullissakke wat week na week nie opgetel word nie, die slaggate, strepe in die strate wat al onsigbaar is, ligte wat nie werk nie, kragbokse wat oopstaan en lang gras.
“Dinge in die stad gaan net agteruit. Ons in Duvhapark is trots op ons wyk en daarom het ons self ingespring en skoongemaak.”
As jy deel van die GPF wil word, bel gerus vir Schoeman: 078 820 0200.
Deel jou nuuswenke met ons via:
Telefoon: 013 656 2490
WhatsApp: 060 866 8682
Epos: info@witbanknews.co.za
Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms: