Jurie maak sy hande vuil om ’n ‘Plaasjapie’ te word
Skakel in op kykNET om ons eie stadsjapie te sien meeding vir die wenprys op die werklikheidsreeks, ‘Plaasjapie’
Van die stad na die plaas pak ons eie stadsjapie die ‘Plaasjapie’-uitdaging aan.
Hy is geensins ’n boer nie, maar sy hande staan vir niks verkeerd nie en hy beskryf homself as avontuurlustig, daarom sê Jurie Naudé (44) het hy ’n kans gevat en ingeskryf vir ‘Plaasjapie’, die nuwe werklikheidsprogram op
“My ouma het my eintlik aangespoor om die ‘bul by die horings te pak’ en in te skryf net voor die sperdatum en toe word ek wraggies gekies.”
Die reeks, wat gisteraand om 20:00 op kykNet begin het, is ’n eg Suid-Afrikaanse werklikheidsreeks wat verfilm is op ’n plaas van vyf hektaar buite Philadelphia in die Swartland aan die Weskus.
Die 18 deelnemers het geen ervaring in plaaswerk of boerdery nie, en woon in ’n skuur vir ’n maand en werk soos boere van ouds.
Hulle moet talle uitdaging en take voltooi om uiteindelik alleen oor te bly en die wengeld van R1-miljoen in die sak te steek.
Gelukkig vir Jurie, wat by ’n vervaardigingsbesigheid in eMalahleni werk, hou hy van die oopte en natuur en het hy vertel hoe hy “tuis gevoel het op die plaas” al was sy naaste plaaservaring sy troeteldiere wat speel op die grasperk van sy huis.
Jurie is oorpronklik van Kriel afkomstig, maar het na sy deelname aan die reeks na eMalahleni verhuis.
Hy reken dat kykers van die reeks sal hou, want na Covid-19 is dit ’n goeie stresverligter met skreeusnaakse oomblikke.
“Die reeks se onvoorspelbaarheid gaan verbaas, veral om te sien waartoe mens in staat is en die lengtes wat jy sal gaan om die prysgeld te wen,” het Jurie verklap.
Op die vraag van watter tipe kyker van hom as deelnemer sal hou, het hy geantwoord dat kunssinnige kykers wat spontaan en bietjie impulsief is soos hy, hom dalk sal ondersteun.
Buiten dié eienskappe, het hy vertel dat sy deursettingsvermoë veral manifesteer en uitgestaan het tydens die reeks, want hy het alles ingesit sonder terughou.
Sonder om enige leidrade te gee van wat gebeur in die reeks, het hy sy ervaring opgesom as een waartydens hy gegroei het uit omstandighede wat hom teruggehou het.
Hy het ook goeie vriende gemaak, en ’n ander realiteit gesien in ’n werklikheidsreeks en hoe dit jou tot jou limiete kan druk.
“Enige persoon kan baat vind om aan ’n reeks soos dié deel te neem, want dit verbreed jou normale horison buite normale omstandighede.”
Hy het vertel dat sy positiewe gesindheid teenoor die lewe hom definitief gebaat het.
“Ek sien altyd ’n geleentheid in ’n verleentheid. As ek nie gereedskap het om iets te doen nie, dan bou ek sommer my eie.”
Hy het verder vertel dat hy “absoluut” weer sal inskryf vir soortgelyke programme, en sien ‘Plaasjapie’ as die begin vir nuwe avonture.
Op die vraag van wat hy laaste gedoen het voor hy die primitiewe wêreld betree het, het hy laggend geantwoord dat hy ’n Coke gedrink het.
Hy het ook gesê dat hy baie ondersteuning ontvang het van sy familie en nuwe werkgewer.
Sy ondersteuning strek nou verder, waar die plaaslike gemeenskap styf duimvashou vir ons eie plaasjapie.
Deel jou nuusbrokkies met ons
Telefoon: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Epos: info@witbanknews.co.za
Of volg ons op sosiale media platforms
Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking
