Fietsryer raakgery – bestuurder van bakkie jaag weg
Lumardt Pienaar (18) is steeds in die intensiewesorgeenheid by Life Cosmos Hospitaal.
eMalahleni se bergfietskampioen is in die intensiewesorgeenheid nadat hy die afgelope naweek van sy fiets afgestamp is
Lumardt Pienaar is op 3 November net na 18:00 in die parkeerarea by Saveways Sentrum raakgery.
Die polisie ondersoek ’n saak van roekeloos of nalatige bestuur.
Kaptein Eddie Hall, polisiewoordvoerder het gesê die jong sportman is beseer toe hy deur ’n Isuzu bakkie van sy fiets afgestamp is.
“Die bestuurder van die bakkie het nie gestop nie en die ongelukstoneel verlaat,” het Hall gesê.
Lumardt word behandel vir verskeie kneusplekke en hy het sy kop hard gestamp tydens die val.
’n MRI skandering het gewys dat Lumardt gelukkig geen ernstige kopbeserings opgedoen het nie.
“Ek is magteloos-woedend,” het Lumardt se ma, Raylene Pienaar gesê.
Sy het genoem dat haar hart in stukke breek elke keer as sy Lumardt besoek.
“Dit is selfsugtig van die bestuurder om my seun net so te los na die ongeluk. Die bestuurder het nie eers gestop om te kyk of hy beseer is nie. Hy moet verantwoordelik gehou word vir sy daad,” het Pienaar gesê.
“Lumardt oefen 16 ure per week en het Sondagaand die opdraand naby HTS geoefen en van agterom teruggery toe die ongeluk gebeur het,” het sy pa, Johan Pienaar gesê.
Lumardt maak opslae in die bergfietswêreld.

Hy het die afgelope Saterdag tweede algeheel geëindig in die Alzu Tour de Farm 45km resies.
Hy is tans sewende op die ranglys in die land en eerste in Mpumalanga.
Die egpaar bedank die gemeenskap, die nooddienste, Saveways Sentrum se bestuur, SACCW se Zello groep en die hospitaalpersoneel wat hulle die afgelope paar dae ondersteun het.
“Is ons bekommerd Lumardt gaan nooit weer fiets ry nie? Nee, ons seun wil wêreldkampioenskappe toe gaan en ons weet hy gaan dit doen.”
Het jy meer inligting oor dié artikel?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste.
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
HET JY GEWEET?
Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.
