Penguin Random House en Lapa bederf ons lesers die maand met ’n paar lekker-lees boeke.
Ons skop af met Jan Bonthuys se Vlug Van Gister.
Waarheen vlug jy as huis nie meer huis is nie?
Ná jare se afpersing, agterdogtigheid en alkoholmisbruik, slaan Emma se man, Gert, haar byna in die hospitaal in.
By hom kan sy nie verder bly nie, dit sal haar lewe kos. Sy vlug vanuit hulle klein myndorpie in Mpumalanga met nie veel meer as die klere aan haar lyf nie. Maar waarheen en wat gemaak sonder geld, ’n werk, of familie wat haar kan ondersteun?
So kies Emma koers Kaap toe, en bid vir die beste. Vlug van gister is ’n hartroerende verhaal van tweede kanse en oorbegin wat lesers weer sal laat glo in ware liefde.
Die jeugroman, Donkerster, is deur Annerle Barnard geskryf en die jongklomp gaan aanklank vind met dié boek.
In ’n neutedop – Carli Kirstein is 17 en só toegewyd aan wildbewaring dat sy soms van gevaar vergeet.
Met twee veeartse as ouers, was dit eintlik onvermydelik, maar haar passie maak haar nie juis deel van die gewilde groep nie. Die drie ouens in haar lewe maak ook dinge moeiliker. Wouter, toekomstige hoofseun en sterkrieketspeler; Stef, die sjarmante ouer buurseun; en Xander, ’n hardwerkende dromer en doring in haar vlees.
Paaie kruis en die gevaar styg wanneer Carli uitvind dat wildstropers die naburige rehabilitasiesentrum vir leeus en ander groot katte teiken.
Carli, haar vriende en haar jonger boetie, Julian, besluit om ’n paar aande te help waghou sonder dat hulle ouers weet. Toe dinge skeefloop. is almal in gevaar, en dis Carli se skuld. Is daar vir hulle uitkoms?
Met die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders is hierdie boek ’n moet om te lees.
So lyk ’n vrou, Ilse Verster se hartroerende verhaal oor Esli se lewe van mishandeling deur ’n gewelddadige eggenoot, het lesers in 2022 geskok en aangegryp.
’n Vrou staan op, is die vervolg op die blitsverkoper en vertel van die nuwe hoofstuk in Esli se lewe. Ná ’n uitmergelende egskeiding wat haar finansieel byna ruïneer, reis Esli Kaap toe om perspektief te kry op ’n lewe waar sy nie meer ’n slagoffer is nie.
Dan gebeur daar ’n wonderwerk. Sy ontmoet iemand en hulle besluit om te trou. Uiteindelik is die geluk, vrede en veiligheid waarna sy haar lewe lank gehunker het, vir Esli beskore.
Máár haar stryd is nog lank nie verby nie. Posttraumatiese stres, ’n vreemde omgewing en nuwe verhoudings bring onverwagse uitdagings. Ook baie vrae, soos: Hoe kan ’n mens gelukkig wees, maar steeds huil?
Die ongekende blootstelling wat tydens boekbekendstellings, praatjies en media-onderhoude volg op die sukses van So lyk ’n vrou, maak dinge ook nie makliker nie. Esli kan haar nie volledig losmaak van die verlede nie, want almal stel moeilike vrae.
Terselfdertyd moet sy ander slagoffers van narsisme moed inpraat. In ’n Vrou staan op, deel die skrywer haar ervarings van die moets en moenies in die proses na heelwording. Want om ’n oorwinnaar te wees, verg ook moed, deursettingsvermoë en ’n sekure instink vir oplossings wat wérk.
Lewensgids vir vroue
Op ’n meer ligter noot bied Aletté-Johanni Winckler, Lewensgids vir vroue, vanuit ’n vars, nuwe perspektief en bied tydlose wysheid wat aanklank by vroue van alle ouderdomme sal vind.
Die boodskappe in hierdie handige lewensgids is gegrond op wat die Woord sê oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe en uitdagings in vroue se daaglikse lewens. Aletté-Johanni gesels met die leser soos ’n goeie, wyse vriendin.
Die inhoud bied die leser praktiese en geestelike raad en wenke wat vroue se hedendaagse leefstyl, verhoudings en situasies in ag neem en spreek die verskillende fases van vrouwees aan.
Van die onderwerpe wat bespreek word, is ‘Hoe om die beste jy te wees’, ‘Hoe om ’n goeie vriendin te wees’, ‘Hoe om ’n goeie jong student te wees’, ‘Hoe om die beste vrou te wees’, ‘Hoe om die beste ma te wees vir babas/kleuters/laerskool kinders/tieners’, ‘Hoe om sosiale media te benader’, ‘Hoe om finansies te hanteer as individu/getroud/gesin’ en vele meer.
Vir diegene wat mal is oor sterre en planete – die 2025 Sky Guide Southern Africa is ook een van die boeke wat jy in jou boekrak moet hê.
Dit is ’n samevatting van wat volgende jaar verwag kan word in die astrologiese wêreld.

Vertel ons van jou gunsteling boek
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste.
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
HET JY GEWEET?
Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.
