eMalahleni se kruisdraer sterf
Bokkie, soos Johannes Liebenberg alom bekend was, het in die vroeë oggendure gesterf.
eMalahleni se kruisdraer is vanoggend vroeg oorlede.
Bokkie Liebenberg, wat elke jaar die kruis gedurende die Paasnaweek se kruisstap gedra het, is na ‘n lang siekbed oorlede.
Hy was die afgelope 10 maande baie siek en was in en uit die hospitaal.
Twee weke na sy vrou, Elize, se dood in Mei was hy opgeneem vir agt weke.
“My pa was skaars twee weke by die huis na die agt weke hospitalisasie, toe is hy weer opgeneem,” het sy dogter Wanda Greeff gesê.
Dr. Peet en Anita van Kraayenburg van Lig en Lewe Bedieninge het gesê Bokkie het sy kosbare aardse lewensboek voltooi.
Die Van Kraayenburgs het Bokkie en Elize as getroue wagters op die ‘muur van gebed’ beskryf.
“Hulle het hul lewe aan die Here gewy en mense liefgehad. Bokkie en Elize het baie pastore en hul vrouens ondersteun in die kerke-wêreld. Maar nou is hul saam in die Here se heerlikheid,” was die pastoor-egpaar se boodskap.
Bokkie het in 1984 na die destydse Witbank toe getrek en het jare by Duvha Kragstasie gewerk.
Die begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word.
Was jy destyds deel van die kruisstap?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste.
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
HET JY GEWEET?
Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.
