Volgens dokter is my tyd maar min op aarde sê oud-polisiekaptein kort voor sy dood
Oud-polisiekaptein van Ogies SAPS, Barries Barnard, sal altyd onthou word.
Nege dae nadat oud-polisiekaptein Barries Barnard op Facebook die hartseer nuus gedeel het dat hy kanker het, is hy vanoggend oorlede.
Hy het op 27 Desember geskryf, “Moontlik nou vir galblaas en naeltjiebreuk! Operasie! Terug van operasie. Naeltjiebreuk is vasgewerk ! Maar buik is vrot van die kanker! Biopsie is geneem ! Sal later die week onkoloog sien maar ja volg dr is my tyd maar min op die aarde!”
Hierdie inskrywing volg kort op die hakke van die heerlike vakansie waarop Barnard sy vriende op sosiale media mee bederf het.
Hy was in Australia en toe by die Kruger Nasionale Park saam met sy vrou, Marie, en het gereeld foto’s en spitsvondige kommentaar gedeel.
Barrnard en sy Great Dane, Ludwig was onafskeidbaar en hy het gereeld foto’s van die reus gedeel.
Barnard het in 1976 by die polisie aangesluit en hy het by Ogies SAPS op pensioen gegaan.
“As ek aan Barries dink, vat dit my altyd terug toe ek as groentjie by Witbank Nuus die nuus by Ogies polisiestasie moes gaan haal. Ek moes altyd na die ‘kwaai’ kaptein toe gaan vir inligting. Die bekende reuk van sy pyp het my al buite die polisiestasie kom groet. Deur die jare het die ‘kwaai’ kaptein diep in Witbank Nuus redaksie se harte gekruip en selfs na sy aftrede het hy gereeld boodskappies gestuur om ons op ons tone te hou,” het Zita Goldswain, nuusredakteur gesê.
Het jy ’n storie om te deel van die ‘kwaai’ kaptein van Ogies SAPS?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste.
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
