‘Spietkop’ mag nie jou lisensie vat nie
Verkeersbeamptes mag vra dat jou lisensie aan hulle getoon word, maar hulle mag nie jou lisensie vat nie.
’n Plaaslike motoris was baie vies omdat sy lisensie by ’n padblokkade gevat was en hy boonop gedwing was om ’n uitstaande boete te betaal.
“Ek is gestop by die padblokkade en is daar gedwing om R500 vir ’n uitstaande boete te betaal. Die verkeersbeampte het boonop my lisensie gevat tot die R500 betaal is,” het die motoris kwaad gesê.
Sy vrou moes inderhaas die geld trek en die boete betaal.
Die man het sy lisensie teruggekry.
Nog ’n motoris se lisensie is by ’n padblokkade gevat en in ’n groot roomysbak gegooi saam met hordes ander lisensies.
Toe sy die verkeersbeampte teregwys en noem dat sy nie haar lisensie mag terughou nie, het die verkeersbeampte gesê, “you can’t stop me.”
Die motoris het dadelik die verkeershoof gebel en hy het verskoning gemaak vir die verkeersbeampte se optrede en bevestig dat ’n lisensie nie teruggehou mag word deur ’n verkeersbeampte nie.
Volgens Strategic Legal Advisors mag ’n verkeersbeampte jou onder geen omstandighede vir uitstaande padverkeersboetes arresteer nie, tensy daar ’n lasbrief vir jou inhegtenisname uitgereik is. Hulle kan jou nie forseer om die boete daar en dan te betaal nie.
Let wel, ’n polisiebeampte of verkeersbeampte met ’n uniform aan het die reg om enige voertuig, enige tyd, af te trek.
As dit gebeur, is jy verplig om jou naam en adres te verskaf, indien dit gevra word, asook enige ander inligting rondom jou identiteit.
Jy is geregtig daarop om die persoon in uniform te vra vir bewys van identiteit, aanstellingsertifikaat of amptelike dokumentasie om homself te identifiseer. Indien hulle weier, oortree hulle die Strafproseswet en enige aksie wat hulle teen jou neem, word as onwettig beskou.
Volgens die Padverkeerswet het ’n verkeersbeampte die reg om te vra om jou bestuurderslisensie te sien.
Verkeersbeamptes is daarop geregtig om ’n lisensieskyfie van die motor te verwyder en die voertuig as onpadwaardig te verklaar. Die voertuig kan dalk ook van die pad verwyder word.
Hulle kan jou nie aanhou vir ’n uitstaande boete waarvoor daar geen lasbrief uitgereik is nie.
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
