Local newsNews

Zariskia word vandag te ruste gelê

’n Koek met ’n kersie, om haar 13de verjaarsdag te vier, het op Zariskia se kis gepryk.

Zariskia Czövek se ma, Venice Vosloo het ’n koek op haar kis geplaas en ’n enkele kersie aangesteek omdat sy vandag haar 13de verjaarsdag sou vier en haar begrafnisdiens vroeër vandag plaasgevind het.

“Vandag 13 jaar terug het God my ‘Babyloo’ vir my gegee, vandag gee ek haar terug aan God,” het Vosloo gesê.

Zariskia se dood het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Die tiener is op 28 Februarie dood in ’n badkamer by ’n gastehuis aangetref nadat sy gaan stort het.

“Ek het aan die slaap geraak na die lang rit Pietersburg toe. Zariskia het so teen 20:30 gaan stort. My man het my so 23:30 wakker gemaak en gesê daar is fout, Zariskia is nog nie uit die badkamer uit nie. Ek het geklop en geroep. Toe ek die deur na ’n gesukkel oopgekry het, het ek haar agter die badkamerdeur gekry. Dit het gelyk of sy slaap,” het Vosloo gesê.

Die seer in haar oë het na vore geglip toe sy hortend vertel hoe sy kunsmatige asemhaling toegepas, haar hartjie masseer en bly bid het terwyl sy vir ’n polsslag gevoel het.

Daar is bespiegelinge dat Zariskia deur gas oorval is toe sy gaan stort het. Die badkamer het ’n gas geiser in.

Sien die video hier: Zariskia was ’n bondeltjie energie wat vir elke oomblik geleef het

Die polisie het aangedui dat hulle nog besig is met die ondersoek.

Die eienaars van Makarios Lodge het by navrae gesê hulle het geen inligting nie en die media terugverwys na Vosloo toe.

Zariskia se dood volg skaars vier maande na haar pa, Jacques Czövek se dood in Oktober verlede jaar.

“Niks sal ooit weer dieselfde wees sonder my pop nie. Hoe leef ek my drome uit as sy nooit hare sal uitleef nie. Ons is beroof van ons drome….” het Vosloo saggies afgesluit.

Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, FacebookTwitter,  Instagram of TikTok

Gesels met ons: info@witbanknews.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button