Local newsNews

Dit was ’n nat Maart gewees

Ons wil graag van jou hoor – deel jou reënmetings met ons.

Dit het darem die afgelope paar weke lekker gesous in eMalahleni. Die damme is vol, die grond is versadig en ywerige tuiniers kan nie byhou met die gras wat so vinnig groei nie.

WITBANK NUUS het by oud-onnie van Laerskool Duvhapark, Cross Basson, gaan inloer om op te vang oor die reënmetings wat hy die afgelope 33 jaar in Tasbetpark neem.

“Ek het op die plaas grootgeword. Die boere hou mos altyd ’n oog op die reën tydens planttyd. Ek kan nie onthou dat my pa elke reënmeting aangeteken het nie, maar die herinnering van die plaas en die reën waarvoor die boere so hard gebid het, sal altyd deel van my jonk-wees bly,” het Cross gesê.

Hy het vertel dat hyself in 1993 reënmetings begin aanteken het.

“Destyds was daar nie iets soos rekenaars en programme waarop jy lesings kan aanteken nie. Ek het die lesings met die hand op my eie dokument aangeteken. ’n Paar jaar later het ek ’n rekenaar aangekoop en dié het nog die ou Dos-program opgehad. Die jeug van vandag sal lag as ek hulle vertel daar was geen Excel-program nie.”

Op die rekenaar met die toe ‘moderne’ Windows 98, het Cross die lesings aangeteken.

Die ‘toeka-se-tieners’ doen mos alles dubbeld en Cross het ook sy reënmetings op papier aangeteken.

Hy is vandag dankbaar vir daardie gewoonte, want in 2005 het sy rekenaar net een kug gegee en ge‘crash’.

“Ek het geen data ge‘back-up’ nie en alles verloor. Gelukkig het ek my ‘back-up’ op papier gehad.”

Cross het bietjie meer vertel oor dié afgelope reënseisoen waar twee rekords die afgelope 33 jaar aangeteken is.

In Maart het dit 19 dae gereën; dit is ’n rekord vir die 33 jaar.

Die afgelope 33 jaar se syfers vertel dat die gemiddelde reëndae vir Maart ses is en daar val sowat 90mm reën.

Vanjaar het daar 174mm in Maart geval.

Vir die reënseisoen wat strek vanaf September tot Maart het 698mm reën geval en 78 reëndae is aangeteken. Dit is ook ’n rekord.

“Daar kan nie regtig ’n tendens uitgewys word nie, maar ek sien so elke 10 tot 11 jaar het ons bietjie meer reën as normaalweg,” het Cross genoem.

Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, FacebookTwitter,  Instagram of TikTok

Gesels met ons: info@witbanknews.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button