Skarebefondsing begin vir eMalahlehi vrou om in Amerika uit te kom om siek man by te staan
Amerikaanse dokters sal oor twee weke meer terugvoer gee vir man van eMalahleni wat met Guillain-Barre-sindroom gediagnoseer is.
Dit gaan beter met Martiens Deyzel wat in ‘n hospitaal in Amerika opgeneem was nadat hy met Guillain-Barre-sindroom gediagnoseer is.
Deyzel is ontslaan en is tans by sy blyplek in Amerika.
Hy is die einde Maart, sowat drie weke na sy aankoms in Amerika in die hospitaal opgeneem toe hy gevoel in sy arms en bene begin verloor het.
Hy het plasma oortappings ontvang asook fisioterapie. Hy moes ook rehabilitasie ondergaan, maar sy vrou Madeleine het gesê die kostes daarvan is baie duur.
Madeleine het gesê hy is tans op medikasie wat sy bloeddruk reguleer
Sy is dankbaar dat hy die beste mediese behandeling kry ten spyte daarvan dat die gesin self die mediese uitgawes moet dek.
Deyzel het op 3 Maart vertrek om vir die eerste keer in Amerika te gaan boer. Hy sou op 6 Desember terugkeer.
Madeleine het gesê haar oudste kinders, Duané (12) en Ludwig (10) is baie bekommerd oor hul pa.
Die egpaar se jongste seuntjie, Dehandré (2) is nie heeltemal seker wat gebeur nie.
“Ek praat elke dag met Martiens. Die dokters kan niks meer vir hom doen. Hierdie is nie iets wat gou sal verbygaan nie.”
Deyzel het aan haar verduidelik dat sy hande en voete baie brand en dat selfs iets soos ‘n langbroek dra vir hom ondraaglike pyn veroorsaak.
“Martiens gaan die 24ste terug dokter toe. Ons sal dan weet wat die pad vorentoe is.”
“As jy koebaai sê op die lughawe weet jy nie wat voorlê nie. Ons glo en vertrou en is baie dankbaar. Die Here is goed vir ons die verlamming het nie verder versprei nie.”
Madeleine wil graag Amerika toe gaan om haar man by te staan, maar sonder die nodige fondse is dit nie moontlik nie.
“Ons mis een persoon, hy mis vier,” het sy afgesluit.
Kliek hier vir die BackaBuddy skarebefondsing skakel wat gestig is om Madeleine in Amerika te kry.
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
