Edenpark se skamele aandetes onder die soeklig
WITBANK NUUS het vroeër die week aansoek gedoen om die voorvalle-boek onder oë te kry nadat bewering van verwaarlosing aan die lig gekom het.
Die aandetes wat by die verswakte afdeling by Edenpark Aftreeoord bedien word, het ook ‘n opskudding veroorsaak nadat insidente van beweerde verwaarlosing
verlede week die hoofopskrifte gehaal het.
WITBANK NUUS het foto’s ontvang van die etes en kon op party foto’s nie uitmaak of dit ‘n stukkie vleis of ‘n souskluitjie is wat bedien was nie.
Bejaardes word saans net ‘n koppie sop, ‘n snytjie brood met ‘n blertsie konfyt op en somtyds ‘n kwart skyfie waatlemoen gegee om te eet.
Maar, hulle kry ook ‘n peuselhappie om 20:00 het die aftreeoord se direkteur, dr. Cariena Schutte, dit probeer goedpraat.
Sy kon egter nie sê waaruit die peuselhappie bestaan nie.
Sy het gesê die bejaardes se hoofmaaltyd word in die middag bedien en het nogal klem daarop gelê dat die dieet deur ‘n dieetkundige, wie se naam sy weerhou het, die dieet ‘sorgvuldig’ uitwerk.
Weer is Edenpark se bestuur gevra vir terugvoer en daar word op hulle antwoord gewag.
Die publiek het ook foto’s aangestuur van die aftreeoord se badkamers.
‘n Vrou wat verkies om anoniem te bly omdat sy bang is sy word geviktimiseer, het gesê sy wou die badkamer gebruik en was geskok om te sien dat die toilet se bak oop was en die toilet duidelik stukkend was.
Daar was ook nie toiletpapier nie. By navrae is sy gesê die hele verswakte afdeling het nie toiletpapier nie.
Verlede week het die beweerde verwaarlosing van die bejaardes in die afdeling baie reaksie van lesers uitgelok.
Twee bejaardes, wat later oorlede is, se laaste dae op aarde moes baie pynlik gewees het, aangesien hulle groot bedsere gehad het.
‘n Derde bejaarde is glo in die badkamer laat val.
Schutte en die voorsitter van die aftreeoord se raad, mnr. Kobus Sutherland, het tydens ‘n vorige onderhoud gesê daar is prosedures in plek waar insidente en klagtes in die verskillende afdelings aangeteken word. Die boeke word nagegaan deur die departementshoofde van elke afdeling.
Schutte het gesê sy dra kennis van al die gevalle wat aangeteken word.
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
