Gert reg om die Comrades aan te durf vir kinders wat nie ouerhuise het nie
Vir die atleet van eMalahleni is die Comrades 'n roeping wat verder strek as net 'n wedloop - dit is liefde met elke kilometer
Wanneer hardlopers die uitdagende Comrades Maraton aanpak, doen hulle dit meestal vir persoonlike prestasie of sportliefde.
Maar vir Gert Luus, ’n toegewyde hardloper van 46 jaar oud, is hierdie wedloop iets veel groter. Dit is ’n missie, ’n roeping wat diep gewortel is in sy geloof en sy liefde vir kinders in nood.
Gert het in 2024 die roeping gevoel om vir Rizpah Kinderhuis fondse in te samel terwyl hy die Comrades hardloop.
Dit was nie net ’n eenmalige besluit nie – hierdie jaar, met sy vierde Comrades, is sy toewyding nog net so sterk.
“Die Heilige Gees het dit op my hart gelê,” sê hy. “Ek volhard in my geestelike opdrag tot die beste van my vermoë.”
Vir hom gaan hierdie poging nie net oor die 90km wat hy moet aflê nie, maar oor die kinders wat nie die voorreg van ’n liefdevolle huis en gesinslewe het nie.
“Daardie kinders is in ’n situasie waarvoor hulle nie gevra het nie,” het Gert verduidelik.
“Hulle kan nie bloot iets uit ’n yskas haal as hulle lus het vir iets lekkers nie. Skoolbenodigdhede is duur, en elke kind wil graag sy eie skoolklere en skryfgoed hê. Dit is iets kleins vir ons, maar vir hulle is dit ’n groot verskil.”
Gert besin diep oor die betekenis van sy wedloop.
Hy is dankbaar vir sy eie familie en besef dat baie kinders in die kinderhuis nie daardie eenvoudige, daaglikse gebaar van ’n ‘goeienag’ aan ’n ouer kan gee nie.
“My kinders is so bevoorreg om in ons huis groot te word en elke aand vir my nag te sê,” het Gert hartseer gesê.
“Die voorbereiding vir die Comrades is nie maklik nie, veral nie met ’n besige werkskedule nie. Ek werk skofte, en tyd is nie altyd aan my kant nie. Maar ek benut elke geleentheid wat ek het om my liggaam reg te kry vir die uitdagende maraton.”
Vir Gert is hierdie reis nie net fisies veeleisend nie, maar ook ’n geestelike pad van dankbaarheid.
“Dit is net ’n voorreg en gawe uit God se hand dat ek dit kan doen,” het Gert dankbaar gesê.
Met die Comrades voor die deur en sy hart gefokus op ’n groter doel, bring Gert nie net hoop aan die kinders waarvoor hy hardloop nie, maar herinner hy ons ook aan die krag van medemenslikheid, deursettingsvermoë en ’n roeping wat verder strek as net ’n wedloop.
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
