Dogter vertel van ma se 14 dae van ‘hel’ in Edenpark Aftreeoord
WITBANK NUUS het weereens Edenpark Park se regsverteenwoordiger gevra om die voorvalle-rekords beskikbaar te stel.
Steeds sypel die hartseer verhale vanuit Edenpark Aftreeoord uit.
Nadat Witbank Nuus se eerste berig oor beweerde mishandeling, kos wat nie op standaard is nie en bedklokkies wat nie werk nie, verskyn het, kom meer en meer mense na vore wat klagtes het.
Elke keer as Yolande Kemp Bezuidenhout die berigte lees, word die roof wat oor haar hartseer gegroei het, weer afgeruk.
Sy het haar ondervinding met Edenpark Aftreeoord se verswakte afdeling gedeel.
Kemp het jare lank self na haar mamma, Hettie Kemp, omgesien.
Nadat tannie Hettie vir ’n ruk in die hospitaal was, is daar besluit om haar in die verswakte afdeling in Edenpark te plaas.
“Sy het nog op die bed gesit en gesels en my gesê waar ek als moes pak. Mossels en koekies gesit en eet en grappies gemaak. Ek was soms twee tot drie keer ’n dag by haar. Ek het nie geweet hoe om haar net so te los dat iemand anders na haar omsien nie. Ek het dit soveel jare gedoen en ek wou nie hê sy moet voel ek gooi haar weg nie,” het Kemp hartseer vertel.
Die rooi vlae het begin wapper toe Kemp agterkom tannie Hettie verswak by die dag.
Sy het uitgereik na die personeel toe en gevra of tannie Hettie se pille nie dalk omgeruil was nie.
“Ek het net verskonings gekry soos sy is moeg. Ons het haar nou net omgedraai. Ons het haar doek omgeruil.”
Die volgende 14 dae het tannie Hettie stadig weggekwyn.
“Van lag en gesels het my moeder net voor haar uit gestaar na net sewe dae daar. Ek was moedeloos en gevoel ek het haar vir die wolwe gelos!”
Kemp het gesê sy was in twee geskeur, maar die verpleegpersoneel en matrone het haar gerusgestel en gesê sy is net moeg en hulle weet wat hulle doen nadat sy ’n bedseer gekry het.
Kemp het gesê ’n 2cm droë bedseer het in 14 dae glo in ’n 8cm rou bedseer verander.
“Het hulle geweet? Hoe vergewe ek myself? Hoekom het ek nie maar aangedring om self te kyk of my ma se bedseer beter was nie. Hoekom het ek nie self die ambulans gebel om haar te kom haal toe ek sien dinge lyk nie goed nie? Want, ek was gesê ek oordryf. En ek is net sensitief omrede ek so gewoond was om self na haar om te sien,” vleg die verwyte elke dag stywer om Kemp.
Tannie Hettie is op 8 November in die hospitaal opgeneem nadat syblykbaar septisemie opgedoen het.
Sy is dieselfde aand oorlede.
Edenpark ondersoek gaan voort: video’s van ’n bedklokkie wat nie werk nie, het aan die lig gekom
https://t.co/QpeA6emzHY #Edenpark #klagtes #WitbankNuus #aftreeoord #Witbank #Emalahleni— WitbankNews (@WitbankN) June 25, 2025
WITBANK NUUS is opsoek na antwoorde op al die klagtes en ten spyte van die koerant se aangehoue probeerslae om die aftreeoord se voorvalle-rekords te sien hou Edenpark se regsverteenwoordiger, Angelique Laas, privaatheidswetgewing as rede voor om die koerant toegang te weier tot die voorvalle-rekords.
Die media het die reg om oor voorvalle in die openbare belang verslag te lewer.
Daar is weer ’n versoek gerig om die voorvalle-rekords te sien.
Aandete by Edenpark laat veel te wense oor
Lees meer hier: https://t.co/9e65DX54ld#witbanknuus #edenpark #verwaarloosing #eMalahleni #witbank— WitbankNews (@WitbankN) May 22, 2025
</
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
