Helpende Hand draai onkologie-eenheid toe met warm liefde en komberse
Helpende Hand glo dat menswaardigheid nie ’n luukse is nie, maar ’n reg – en dat elke daad van goedheid die krag het om lewens te verander.
In ’n tyd waar deernis en gemeenskapsgees goud werd is, het Solidariteit Helpend Hand weer eens gewys hoekom hulle so ’n onontbeerlike pilaar in die gemeenskap is.
Met hul onlangse besoek aan die onkologie-eenheid by Centre de la Vie op 8 Julie, het hulle nie net komberse gebring nie – hulle het hoop, omgee en menswaardigheid saamgedra.
Die kleurvolle en sagte komberse, wat met sorg ingesamel en voorberei is, is oorhandig aan pasiënte wat daagliks dapper teen kanker veg.
Vir baie van hierdie individue is die pad van behandeling lank en soms eensaam. Hierdie eenvoudige, maar betekenisvolle geskenk bied nie net fisiese warmte nie, maar ook die troos dat hulle nie alleen is nie.
“Hierdie winter is ongelooflik koud en ons weet hierdie mense het dit nodig,” het Alta Lourens van Helpende Hand se Witbank-tak met trane in haar oë gesê.
Solidariteit Helpend Hand se projek vorm deel van hul groter strewe om in elke dorp, gemeenskap en gesin ’n merk van hoop agter te laat.
Hulle glo dat menswaardigheid nie ’n luukse is nie, maar ’n reg – en dat elke daad van goedheid die krag het om lewens te verander.
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
