Local newsNews

Die grootste geskenk in die Henn-huis – Ruvé se glimlaggies

Ruvé was onlangs weer in die hospitaal, en is intussen ontslaan. Sy spandeer Kersfees by die huis.

Onder die Kersboom in die Henn-huis lê die geskenke reeds reg, elkeen sorgvuldig met liefde toegedraai.

Vir Ruvé Henn se ouers, Adri en Ruhan, is die kosbaarste geskenk nie in papier toegedraai nie.

Dit is die blote feit dat hulle klein vegtertjie by die huis is.

Ruvé Henn is die ene glimlaggies.

Ruvé, wat die harte van die hele gemeenskap gesteel het, is onlangs uit die hospitaal ontslaan nadat sy vroeër vandeesmaand weer deur aanvalle geteister is.

Vir nou is sy veilig terug by die huis.

Gemeenskap maak harte en beursies oop

Die astronomiese mediese onkostes hoop by die dag op.

Die gemeenskap het egter op 27 November gewys Ruvé veg nie alleen nie.

Tydens ’n gholfdag is meer as R900 000 ingesamel om die gesin te ondersteun.

Hierdie is net ’n bewys dat Ruvé, sonder dat sy dit weet, diep in eMalahleni se harte ingeklouter het.

Die krag van gebed

Ten spyte van die mediese uitdagings en die onlangse terugslag met die aanvalle, bly Adri en Ruhan onwankelbaar in hul geloof.

LEES MEER ‘Bid vir Ruvé,’ vra ouers

Vir hulle is elke dag saam met Ruvé ’n genadegawe.

“Gebed is die gesprekke met God wat ons siele rustig maak. God ontmoet ons waar ons op ons laagste is,” het die ouerpaar gesê.

 

“Daarom vra ons, hou asseblief vir Ruvétjie in jul gebede. Elke gebed word so baie waardeer.”

Ruvé se moeilike pad

Ruvé het maar net 1.377kg geweeg toe sy gebore is.

Die swangerskap was moeilik weens ’n toestand genaamd placenta previa, waar die plasenta die serviks bedek het. D

it het veroorsaak dat Ruvé nie genoeg voedingstowwe gekry het om normaal te groei nie.

Na haar geboorte het sy vyf weke in die neonatale intensiewesorgeenheid deurgebring.

Nadat sy uiteindelik huis toe is, het Ruvé erge breinvliesontsteking opgedoen wat haar breinvlies beskadig het.

Die klein dogtertjie het al twaalf breinoperasies ondergaan, en ’n plastiekbuis is al vyf keer ingesit om vloeistof te dreineer.

Haar klein hartjie het ook al twee keer gaan staan.

Terwyl die Kersliggies flikker en ’n feestelike opgewondenheid die Steenkoolstad omhels, fokus die Henn-gesin op wat werklik saak maak, elke oomblik saam met hul vegtertjie wat weier om op te gee.

Deel jou nuuswenke met ons: info@news@mweb.co.za 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button