Local newsNews

Ondersoek na gastehuis-tragedie duur voort

Daar is nog geen nuwe antwoorde in die Zariskia Czövek-doodsondersoek nie. Die tiener is 10 maande terug vermoedelik deur gas oorval.

Terwyl die res van die land die feesseisoen gevier het, was daar vanjaar ‘n oorverdowende stilte in die Vosloo-huis.

Vir die eerste keer het Zariskia Czövek se opgewonde lag nie deur die huis weergalm terwyl sy haar geskenke oopgemaak het nie.

Zariskia Czövek en haar ma, Venice Vosloo tydens hul laaste vakansie.

Alhoewel tien maande reeds verloop het sedert die tragedie, bly die wond vir mamma Venice Vosloo steeds rou.

Zariskia is op 28 Februarie dood in ’n gastehuis in Pietersburg aangetref.

Haar ma het vertel hoe sy na ’n lang rit aan die slaap geraak het terwyl Zariskia teen 20:30 gaan stort het.

Die nagmerrie het om 23:30 begin toe haar man haar wakker maak omdat die tiener steeds nie uit die badkamer was nie.

Nadat hulle die deur oopgekry het, het hulle Zariskia se liggaam  agter die deur gevind.

Vosloo het desperaat kunsmatige asemhaling toegepas en onverpoos gebid terwyl sy na ’n polsslag gesoek het, maar dit was te laat.

Die vermoede bestaan dat Zariskia deur gas oorval was terwyl sy gestort het.

 

“Vandag 13 jaar terug het God my ‘Babyloo’ vir my gegee; vandag gee ek haar terug aan God,” het ’n diep bedroefde Vosloo tydens die roudiens gesê.

LEES MEER HIER Zariskia word vandag te ruste gelê

Wag op antwoorde

Spesialis-ondersoeker Jacques Visser van Mike Bolhuis se ondersoekspan, wat die ondersoek na Zariskia se dood ondersoek, het bevestig dat daar tans geen nuwe verwikkelinge is nie.

“Die ondersoek gaan voort en ons sowel as die polisie wag vir dokumente. Sodra ons al die dokumente het sal die ondersoek voortgaan soos beplan,” het Visser gesê.

Venice Vosloo by die boom wat ter nagedagtenis aan haar dogter, Zariskia Czövek by Laerskool Panorama geplant is.

Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, FacebookTwitter,  Instagram of TikTok

Gesels met ons: info@witbanknews.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button