Local newsNews

Spoedhobbels kry dalk nie ‘trekpas’ nie, maar word geskuif

Die inwoners van Clearwater Estate het gesê die geraas van die voertuie wat voor die spoedhobbels briek hou hulle uit die slaap uit.

Daar is ’n moontlikheid dat die spoedhobbels op die R555 net ’n entjie aangeskuif gaan word.

Die besluit is in die pyplyn na ’n verkeersimpakstudie wat deur Sanral gedoen is nadat klagtes van die gemeenskap ontvang is.

Die studie het gewys dat daar ’n daadwerklike verskil in verkeersvloei tussen skoolkwartale en vakansies is.

Die verkeer vroeg op 30 Januarie.

Verkeersopeenhopings kom saam met die nuwe skooltermyn

Die eerste paar dae nadat die spoedhobbels opgesit is, het ’n bottelnek-effek motoriste rooi onder die kraag gehad.

Tydens die Desembervakansie het verkeer gevloei, maar toe die skole heropen, was daar weer verkeersopeenhopings wat daartoe gelei het dat leerders dikwels laat was vir skool.

Misdadigers het ook die geleentheid raakgesien en niksvermoedende motoriste, wat spoed verminder voor die spoedhobbels, probeer kaap.

Daar het ook ongelukke by die spoedhobbels plaasgevind. In November was daar 22 ongelukke, in Desember 26 en tot op hede in Januarie 14 aangeteken.

Die publiek sê hul sê

Wyk 20 se raadslid, Maureen Scheepers, het ’n meningspeiling gedoen om die publiek se reaksie te toets.

Die resultate het ’n oorweldigende teenkanting getoon, met 683 uit die 749 inwoners wat hul misnoeë met die spoedhobbels uitgespreek het.

LEES MEER HIER: R555 speed hump – Sanral is doing a test run

Die inwoners het gesê dat meer brandstof gebruik word en dat hulle gereeld laat is vir skool en werk. Verder voldoen die spoedhobbels volgens hulle nie aan die nasionale padontwerp-standaarde vir hoë-volume paaie nie, en dit is moeilik om die hobbels in die nag raak te sien.

Van die inwoners het voorgestel dat die spoedhobbels ’n entjie verder op, by die Puma-garage se stopteken opgesit word omdat baie motoriste en swaarvoertuigbestuurders nie by daardie stopstraat stop nie.

Teen druktyd was die besluit om die spoedhobbels te skuif, nog nie in ink gegiet nie.

“Besluite oor padveiligheid kan nie op enkel klagtes of geïsoleerde versoeke gebaseer word nie, maar moet gemeenskapinsette, bewyse en werklike impak weerspieël. In hierdie geval spreek die data en die mense duidelik, die spoedhobbels het misluk, en die veiligheid en welstand van die gemeenskap moet nou eerste kom,” het Scheepers gesê.

 

“As geraasvermindering die doel was, verdien die publiek om die werklike geraas-data en kundige bevindings te sien. Sonder dit bly hierdie proeflopie ’n duur en gevaarlike eksperiment wat meer skade as voordeel veroorsaak het,” het sy bygevoeg.

Die besluit deur Sanral om die spoedhobbels op te sit, het gekom nadat ’n inwoner van Clearwater Estate oor die geraas van die verkeer in die nag gekla het.
Hy het aangevoer die verkeer hou hom uit die slaap uit.

Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, TwitterInstagram of TikTok

Gesels met ons: info@witbanknews.co.za

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Check Also
Close
Back to top button