Local newsNews

“Moenie opgee nie”, sê man wat werk kry na Facebook-plasing

Sy raad aan werksoekers is om nooit moed op te gee nie en te bid vir die regte geleentheid.

Vir die 52-jarige Jacques Westraadt was die oggende die moeilikste.


Dit was ’n daaglikse stryd met slapelose nagte, die gebede, en die wonder waar sou sy gesin se volgende maaltyd vandaan kom.


Jacques het werk gesoek, talle CV’s wat onbeantwoord was, ingestuur, van plek tot plek geloop en aangeklop in die hoop dat iemand vir hom sou werk gee.


Jacques is geen groentjie in die bedryf nie



Jacques wat in 1992 sy vakleerlingskap begin het by Highveld Steel, het sy lewe lank by staal- en ingenieursbesighede gewerk. Hy was ’n voorman, ’n operasionele/algemene bestuurder, ketelmaker, inspekteur en die lys gaan net aan.


“Ek het van 2021 tot 2025 by ’n maatskappy gewerk waar ek die laaste maande geen salaris ontvang het nie. Ek het menige mense se werksverpligtinge, buiten my eie voltooi. As ek gevra het wanneer ek salaris sou kry, was ek afgejak en leuens vertel. Al het ek geweet daar kom wel werk in en dat die maatskappy wins moes wys, maar steeds was ek nie my salaris betaal nie. Ek was pligsgetrou elke dag by die werk tot ek nie meer so kon verniet verder vir maande werk nie. Ek was toe genoodsaak om ander werk te begin soek,” het hy vertel.



Die pad op soek na nuwe werk, was ook met baie teleurstellings besaai



Jacques het sy CV oral heen gestuur, maar dié het onbeantwoord gebly. Hy het nie terugvoer of ’n uitnodiging vir ’n onderhoud gekry nie.

Hy het selfs van besigheid tot besigheid gestap en gevra vir werk – maar selfs dit het niks opgelewer nie.


“Ek het moedeloos geword,” het hy vertel.


“Ek het geweet ek het ’n gesin om voor te sorg. Ek het my trots in my sak gesteek en op Facebook gevra vir werk.”



So het Jacques se advertensie gelei: “My naam is Jacques (Jakes) Westraadt. Ek is 52 jaar oud, maar kan nog werk soos ’n 20-jarige. Ek is tans sonder werk en sal dit waardeer as iemand my ’n geleentheid kan gee sodat ek my kennis en harde werk kan deel. Ek sal ’n groot aanwins wees. Ek woon in Witbank en het ’n geldige rooikaart/fitness certificate. Ek is dadelik beskikbaar.”

Jacques westraadt



Die Facebook-plasing het vrugte afgewerp



“Mense het my van orals af gebel. Dit het my skaamheid weggeneem toe ek sien ek kry so baie terugvoer na my advertensie. Ek het weer begin glo in mense en dat mense bereid is om nog te help. Ek het geweet daar sal vir my ’n deur oopgemaak word, en dit het gebeur.”


Jacques het sopas ’n goeie betrekking in Middelburg gekry.


“Ek weet ek gaan ’n lang pad stap saam met die maatskappy. Ek sal my beste lewer en weet ek sal ’n aanwins wees.”


Sy raad aan werksoekers is om nooit moed op te gee nie.


“Kyk boontoe en onthou, al gaan dit hoe sleg, is daar altyd so baie om nog voor dankbaar te wees. Ek wil hê julle moet weet daar is nog werk vir Suid-Afrikaners en dat daar nog baie mense is wat in ’n mens glo.”

Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,

Volg ons op  websiteFacebookX,  Instagram or TikTok

Epos: info@witbanknews.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button