Local news

Ons is jammer sê Dros na gidshond-herrie

Die Dros-groep is besig om hulle beleid rakende gidshonde na te sien om te verseker al hulle gaste voel welkom.

Die Dros gaan voortaan in al hul restaurante op ’n gidshond-beleid fokus na die sosiale media ‘ontploffing’ omdat hulle ’n blinde vrou en haar gidshond nie wou toelaat in hulle hoofrestaurant nie.


“Eerstens wil ons ons opregte spyt uitspreek dat die restaurant die gas onwelkom laat voel het. Dit is vir ons uiters belangrik dat alle gaste, insluitend diegene wat deur gidshonde vergesel word, gerespekteer en geakkommodeer word,” het Derek du Toit hoofbedryfsbeampte van Dros se hoofkantoor gesê.


Du Toit het gesê volgens beskikbare inligting blyk dit dat die voorval tydens ’n uiters besige tydperk plaasgevind het toe daar beperkte sitplek beskikbaar was.


“Besorgdheid is uitgespreek oor die geskiktheid van die oorblywende tafels weens die nabyheid aan areas met baie bedrywighede, insluitend kinders en voedselbereiding. Dit blyk dat die span op daardie oomblik nie ’n geskikte oplossing kon vind wat aan alle behoeftes voldoen het nie.”


“Ons is spyt dat die interaksie daartoe gelei het dat die gas die restaurant verlaat het en verstaan hoe ontstellend hierdie ervaring moes gewees het. Die hoofkantoor was in kontak met die gas om haar ervaring beter te verstaan en enige kwessies aan te spreek,” het Du Toit gesê.


By die Wimpy het Berry haar eie waterbak.

Anlie Smith het haar tot sosiale media gewend toe sy op Goeie Vrydag toegang na die Dros in Middelburg geweier was, waar sy en haar familie wou gaan eet.


“Die eienaar het voorgestel ek moet buite gaan sit. Berry is ’n hoogs opgeleide hond wat onder die tafel gaan lê as ek by ’n restaurant gaan eet. Ek het probeer om te verduidelik dat Berry my oë is, maar hulle het nie daarop ag geslaan nie.”

Sien die video hier: Dis hoe Berry haar werk doen

@witbanknews After Anlie Smith and her guidedog were refused entry at a restaurant in Middelburg we took a stroll with Berry, Anlie's 'eyes' to see how they navigate through a mall #witbanktiktok #fypage #servicedog #witbanknews #guidedog @Witbank News ♬ original sound – witbanknews


WITBANK NUUS het op die oggend van 8 April tyd saam met Annelie en Berry deurgebring om eerstehands te sien hoe die span saamwerk.


“Ons het deur die winkelsentrum gestap en Berry het Annelie moeiteloos teen die roltrappe opgeneem en tot by die Wimpy gelei,” vertel nuusredakteur Zita Goldswain. By die Wimpy is die paar hartlik gegroet met ’n vrolike: “Good morning Ms Smith, good morning Berry.”


Die personeel het selfs vir Berry haar eie rooi waterbak, kompleet met haar naam daarop, met vars water gebring.

Berry het intussen doodstil onder die tafel gelê terwyl die gesprek vlerke gekry het.


’n Spesiale band

“Ek vertrou vir Berry met my hele lewe. Ek het drie jaar lank vir haar gewag en was van die eerste ontmoeting af dolverlief,” het Smith vertel.


Smith het meer lig te werp op die ‘moets en moenies’ wanneer dit by gidshonde kom.
Gidshonde dra kenmerkende harnasse met duidelike identifikasie. Diens- en ondersteuningshonde dra rooi jassies, terwyl honde in opleiding aan hul blou jassies geken word.


“Onthou dat gidshonde ook maar net honde is en dat hul aandag afgelei kan word, wat gevaarlik vir die eienaar kan wees. Wanneer jy ’n gidshond gewaar, vra altyd eers die eienaar se toestemming voordat jy die hond aanraak. Die eienaar sal gewoonlik die hond laat sit of lê voordat jy hom mag vryf.”

Anlie het op 29-jarige ouderdom blind geword toe sy ’n beroerte in haar slaap gekry het.

“Ek het geleer om mense te ‘sien’. Nou sien ek nie gesigte nie, ek hoor hart, ek voel liefde. Vir die eerste keer ‘sien’ ek mense vir wie hulle is.”

Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,

Volg ons op  websiteFacebookX,  Instagram or TikTok

Epos: info@witbanknews.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button