Steeds ‘n wenspan na 60 jaar
Johan en Barbara de Klerk van Brackendowns het op 26 Januarie hulle groot 60 gevier.
Hulle het mekaar by ‘n gemeenskaplike troue in Zeerust ontmoet en die koeël was toe spreekwoordelik deur die kerk. Dit is hier waar hulle ook hulle huwelik in 1963 voltek het.
Johan was al die jare in die modereringsbedryf van grondverskuiwingstoerusting en is tans op die ouderdom van 84 steeds aktief betrokke daarmee.
Barbara was ‘n administratiewe klerk en is steeds besig met administratiewe takies vir haar seun se besigheid.
Rus is nie vir die twee werksesels ‘n opsie nie en spanwerk is een van hulle uitstaande kwaliteite.
Die egpaar is ook aktief betrokke by hulle gemeente en niks is ooit teveel moeite nie.
Volgens Johan en Barbara was daar tussen hulle nog altyd wedersydse respek en ‘onvoorwaardelike liefde is ‘n moet’.
Hulle het baie jare se sakke sout saam geëet. Saam met hul gelukkige jare gehad en ook die hartseer beleef om twee van hulle vier seuns aan die dood af te staan. Hulle is geseënd met ses kleinkinders en een agterkleinkind.
Barbara is baie lief vir tuinmaak, naaldwerk en kosmaak.
Hulle kinders en skoonkinders beskryf hulle as ‘n wenspan wat nie die woorde ‘kan nie’ ken nie.
“Wat ‘n voorreg om hulle as ouers, skoonouers en ouma en oula te hê. Lank lewe die liefde,” het die familie gesê.
Karen de Klerk




