Local news

Almamater kuier saam na 50 jaar

In 1975 het 148 matrikulante op die stoepe van Hoërskool Alberton rondgestap en gedroom oor die toekoms wat oop voor hulle gelê het.

Party sou gaan studeer, sommiges sou gaan werk, terwyl ’n ander groep verpligte weermagopleiding sou doen.

Op 3 Mei vanjaar het 43 volwassenes van hierdie groep matrikulante, vergesel deur 20 metgeselle, weer op die stoepe van hulle alma mater gestap, elkeen besig met sy of haar eie gedagtes.

Wanneer hulle nou terugkyk, kom die besef dat die lewe eens so ongekompliseerd was. Intussen het die lewe egter gebeur, en 25 van hulle maats is reeds oorlede.

Tydens die formele verrigtinge in die lapa is ‘n kers, ter herinnering, vir elkeen van hierdie maats aangesteek.
‘n Heerlike spitbraai is voorberei wat saam met die nodige ‘ander verversings’ geniet is.

Soos die lewe aanbeweeg het, het hulle ook aanbeweeg en van sewe provinsies, en so ver as Brasilië, saamgekom vir ’n onvergeetlike dag gevul met nostalgie.

Die reünie is afgesluit met die bywoning van die erediens by die NG Kerk Alberton-Wes en daarna ’n ontbyt by Reading Country Club.

Die konsensus onder hierdie groep was dat hulle nie weer 10 jaar gaan wag vir die volgende reünie nie.

Tien van die voormalige leerders, wat in die Wes-Kaap woon, het op 26 Maart ’n mini-reünie by Boschendal Landgoed bygewoon, waarvan agt ook die reünie in Alberton bygewoon het.

’n Spesiale woord van dank gaan aan Klara Faber en haar span, wat amper die onmoontlike vermag het om hierdie reünie moontlik te maak. Hul tyd en toewyding het nie ongesiens verbygegaan nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Alberton Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button