Hannes Barnard inspireer kreatiwiteit en 'n liefde vir woorde by Laerskool Ranthart
Laerskool Randhart se leerders geniet 'n oggend saam met die bekende skrywer Hannes Barnard waar hy oor sy boeke gesels het en leerders aan rymklets (rap) en rymverse bekendgestel het.
Leerders van Laerskool Randhart het onlangs ’n kykie in die wêreld van verbeelding en skryfwerk gekry toe die bekende skrywer Hannes Barnard die skool in Alberton besoek het.
Barnard het die jong Ranties op ’n opwindende reis geneem waartydens hy sy boeke gedeel en hulle aangemoedig het om die kreatiewe moontlikhede van taal te ontdek.
Van voorlesing tot rymklets
Tydens ’n lewendige, interaktiewe sessie het hy uittreksels uit sy verhale voorgelees en die leerders aan rymklets (rap) en rymverse bekendgestel.
Hy het ook sy beste skryfwenke gedeel en die groep met prettige woordpeletjies vermaak, sodat hulle self met taal kon rondspeel en hul verbeelding vrye teuels kon gee.
Volgens die skool was dit ’n onvergeetlike ervaring wat gewys het dat woorde veel meer as net letters op ’n bladsy is.

Leerders is aangemoedig om met nuwe oë na skryfwerk te kyk, en te besef dat kreatiwiteit, verbeelding en ’n bietjie speelsheid alles deel van goeie storievertelling is.
‘n Ervaring om te onthou
Laerskool Randhart het hul dank teenoor Barnard uitgespreek omdat hy sy passie vir woorde met die leerders kom deel het.
“Wat ’n voorreg om die skrywer Hannes Barnard by Laerskool Randhart te verwelkom,” lui ’n verklaring van die skool.
Die skool hoop dat die besoek jong skrywers sal aanspoor om self pen op papier te sit. “Mag hierdie ervaring aanleiding gee tot baie nuwe stories en skryfdrome,” het die skool bygevoeg.
Vir die Ranties was dit ’n welkome herinnering dat ’n hele wêreld van verbeelding met een enkele woord kan begin.



