Dit is lekker om weer sportbyeenkomste by te woon
Dit is lekker om weer vir my kind van die skool se paviljoen te skree.
Stadig maar seker is alles besig om terug na normaal te keer. Hoe lekker is dit nie om vir jou kind of kinders langs die atletiekbaan te skree nie?
Vir twee jaar was dit van ons weggevat en nou dat ons weer sportbyeenkomste mag bywoon besef ‘n mens eers hoe baie jy dit gemis het. Nie net is dit vir ons kinders lekker om voor toeskouers te hardloop nie, maar daardie woorde van aanmoediging maak dat hulle beter presteer.
Dit is ‘n sosiale byeenkoms waar jy aan lekker kos smul, deel aan al die kinders se opgewondenheid en die gees van só ‘n dag.
Ek het die gevoel gemis om my kind in aksie te sien op die sportveld. Ek het gemis om vir die res van die kinders in haar skool te skree. Atletiekbyeenkomste is ‘n samekoms soos geen ander.
Ons vat soms baie dinge in die lewe vanselfsprekend en besef nie dat dit juis deel is van die klein goedjies wat die lewe die moeite werd maak nie. Ons is dankbaar om weer as die skare al ons kinders toe te juig.
Shenizé van der Walt



