Inwoner se plan waarsku teen slaggat in pad
Die inwoner se plan het beslis ‘n positiewe uitwerking.
‘n Inwoner van Brenthurst, het ‘n plan gemaak om motoriste wat in Prince Georgelaan ry te waarsku teen ‘n reuse slaggat in die pad.
James Marais (30), wat self in die straat woon, het die afgelope tyd ten minste sewe keer beleef dat motoriste skade aan hul voertuie opdoen as gevolg van die diep gat op die besige pad.
Die slaggat is net verby die eerste ingang van die begraafplaas.
James het ‘n paar meter voor die gat ‘n bord aangebring wat aandui dat daar ‘n slaggat in die pad is.
“Ek het al verskeie mense gaan help nadat hulle die gat getref het. Verlede week het ‘n vrou amper beheer oor haar voertuig verloor,” het James gesê.
Sy plan het beslis ‘n uitwerking. Gedurende die tyd dat die Herald met James op die plek gepraat het, het motoriste, wat sy teken raakgesien het, wel spoed verminder en uitgekyk vir die gat.
Die Herald het verlede week berig oor slaggate wat tot groot finansiële verlies en skade vir motoriste van die dorp lei. (Decaying roads cause a ‘hole’ lot of damage).
Athlonelaan was veral ‘n groot kopseer vir motoriste en die Stad van Ekurhuleni het verlede week die gate in dié pad opgevul.
Dit het egter min verligting gebring aangesien talle ander slaggate in die dorp se paaie steeds ‘n gevaar vir motoriste inhou.
Beurtkrag help ook nie met die situasie nie aangesien motoriste saans, wanneer beurtkrag toegepas word, nie die gate kan sien nie.




