Local newsNews

Fietsryer sterf tewyl hy oefen

‘n Kranige fietsryer en bekende inwoner van die dorp is verlede Woensdag oorlede toe hy voor Carnival City deur ‘n motoris raakgery is.

Jan Vorster (58) was ongeveer 10.50vm aan die oefen op die roete, wat hy die afgelope drie jaar gebruik het om voor te berei vir komende wedrenne.

Hy is blykbaar van agter af getref en is opslag dood. Volgens familielede het Jan wel binne die geelstreep gery toe die ongeluk plaasgevind het.

‘n Groot aantal vriende, familie en kollegas het Dinsdagoggend sy begrafnis vanuit die NG Kerk, Brakpan-Wes Gemeente bygewoon, en hul laaste eer betoon aan ‘n persoon wat diep spore in die dorp getrap het.

Jan het sy matriekloopbaan in 1973 aan die Hoër Tegniese Skool (Die Anker) voltooi, waar hy ondermeer lid was van die skool se eerste rugbyspan, wat in daardie jaar die wenners van die Oos-Transvaalse Administrateursbeker was.

“My pa was op skool ook ‘n ywerige atleet, maar hy was ook ‘n besondere handige leerder in handwerk en op akademiese gebied was hy heel bedrewe,” het sy dogter Vicky Booyse (32) aan die Herald gesê.

Na skool het Jan by die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweg begin werk waar hy ook sy vrou Sandra (58) ontmoet het. Hulle is in in 1978 getroud en het ook ‘n seun Wayne (30).

“My ouers sou vanjaar, op 23 Desember hul 35ste huweliksherdenking gevier het,” het Vicky gesê.

Jan se profesionele loopbaan het hom later gevat tot by EL Bateman, waarna hy besluit het om sy eie besigheid op die been te bring.

Hy het landbou onderdele verkoop aan die boere van Gauteng en die Noordwes, en het het ook later sy eie vulstasie met ‘n winkel tot stand gebring.

“My pa het dit geniet om fiks en gesond te bly. Fietsry was een van sy groot passies, en hy het gereeld geoefen en met sukses aan verskeie wedrenne deelgeneem,” het Vicky gesê.

“Hy was ‘n passievolle mens wat elke dag met oorgawe aangepak het. Hy het baie vriende gemaak deur sy besigheid, maar ook in die sportkringe waarin hy beweeg het.”

“Hy het gereeld geoefen en die roete wat hy Woensdag gevolg het, het hy al vir die afgelope drie jaar gery,” het sy gesê.

Volgens haar het die persoon wat vermoedelik haar pa raakgery het op die toneel stilgehou en polisie, wat in die nabyheid was, ontbied.

“Daar is baie onbeantwoorde vrae en ons sal moet wag totdat die ondersoek afgehandel is,” het Vicky gesê.

Die gesin het kapt MS Emjedi en konst S Fox van die Brakpan SAPD bedank vir hul bystand en hulp op die ongelukstoneel.

Voorts het hulle gevra dat enigiemand wat moontlik die ongeluk gesien plaasvind het na vore sal kom.

Die ondersoekbeampte is sers Morné Du Plessis en hy kan gekontak word by 011 741-4800.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button